Drie jaar vir brilsteler wat flou val na inbraak

Bril

Deur Garnett Wicomb
‘n Man wat helder oordag by ‘n besigheid in die middedorp van Oudtshoorn ingebreek en homself sodanig beseer het dat hy flou geword en na die hospitaal geneem moes word, is in die Oudtshoorn Landdroshof drie jaar gevangenisstraf opgelê.

Steven Hendricks (24), met ses relevante vorige veroordelings, is aan huisbraak en diefstal skuldig bevind deurdat hy op Sondag 19 Maart vanjaar by Slabber en Slabbert Oogkundiges in Kerkstaat ingebreek en brille ter waarde van R26 000 gesteel het.

Hy het skuldig gepleit en getuig dat hy die glasdeur op ‘n skrefie sien oopstaan en oopgebreek het.

Sy hand het snye opgedoen en hy het onderweg huis toe as gevolg van die bloed wat hy verloor het langs die pad flou geval.

Verbygangers het ‘n ambulans gebel en hy is hospitaal toe geneem waar die polisie beslag gelê het op die sakkie met die gesteelde brille.

Die staatsaanklaer, Vandana Premchand, het vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Hendricks nie gebruik gemaak het van kanse wat hy in die verlede gekry het nie.

Landdros Lorraine Samuels het met vonnisoplegging gese die kommerwekkende toename in oneerlikheidsmisdade moet hokgeslaan word, en dat ‘n opgeskorte vonnis onvanpas sal wees. Hy het die misdaad gepleeg terwyl op parool was en dit was as gevolg van mediese komplikasies dat hy “op heterdaad” betrap is.

Hendricks is tot tot 36 maande gevangenisstraf gevonnis waarvan 12 maande voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hy is reeds in 2016 onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die staat gaan versoek dat ‘n opgeskorte vonnis wat Hendricks verlede jaar opgele is, in werking gestel word en die saak is hiervoor tot 26 September 2017 uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?