Donker naweek op pad eis vier

Bo: Die motor waarin drie Oudtshoorniete gesterf het, word Sondagoggend van die treinspoor by die Dysseldorp-afdraai opgehys.                          Foto: Patrick Jackson

Bo: Die motor waarin drie Oudtshoorniete gesterf het, word Sondagoggend van die treinspoor by die Dysseldorp-afdraai opgehys. Foto: Patrick Jackson

Heel links: Francois (Frankie) Botha, bekende rugbyspeler van Collegians. (Foto verskaf)  Links: Anton de Ridder. (Foto - Facebook)

Bo: Francois (Frankie) Botha, bekende rugbyspeler van Collegians. (Foto verskaf)
Onder: Anton de Ridder. (Foto – Facebook)

1 Francois Botha

Deur Liesel le Roux
DIT was ’ n tweede donker naweek op die paaie om Oudtshoorn met vier mense wat – net soos die vorige naweek – in twee botsings gesterf het.

Beide botsings was op die N12 tussen Oudts­hoorn en De Rust met bestuurders wat na bewe­ring beheer oor hul voertuie verloor het. Dié pad word tans oorgebou en wyer gemaak, juis om dit te beveilig.

Kerneels Karelse het Saterdagaand in ’n botsing op dié pad gesterf terwyl drie kollegas wat werksaam was by Van der Berg Vervoer op Oudtshoorn, Anton de Ridder (52), Francois (Frankie) Botha (34) en Albert Jacobs (31), gesterf het toe hul voertuig op die treinspoor beland het waar die afdraaipad na Dysseldorp by die N12 aansluit.

De Ridder was ’n vragmotorbestuurder vir Van der Berg Vervoer terwyl Botha en Jacobs by die steengroef gewerk het.

Danie van der Berg, eienaar van Van der Berg Vervoer, het die week sy simpatie uitgespreek teenoor die families van die oorledenes en gesê hulle dood is ’n groot verlies vir die besigheid.

Dit is nie bekend hoe laat die ongeluk plaasgevind het nie. Volgens kapt Louis Visser, woord­­voerder van die Oudtshoorn Polisie, het van die oorledenes teen Saterdag 23:00 nog per selfoon kontak met familie en vriende gehad. Die motor is egter eers Sondag omstreeks 08:50 op die treinspoor gevind.

Die motor wat van Dysseldorp op pad was, is oor die stopteken by die T-aansluiting met die N12, en is daarna regoor die N12, deur ’n stukkie veld en oor ’n afgrond tot op die treinspoor.

Botha, ’n pa van twee kinders, was ’n bekende rugbyspeler en voormalige kaptein van die Collegians Rugbyvoetbalklub op Oudtshoorn. Hy het tevore ook vir die All Blacks en die Bridgton Rugbyklub gespeel.

Dit is die tweede speler wat Collegians vanjaar aan die dood afstaan. Die klub se kaptein, Guido Koert, is in Mei vanjaar dood in sy kamer gevind.

De Ridder laat sy ma, Corrie van Oudtshoorn agter, asook vier kinders en drie susters.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die ongeluk waarin Karelse oorlede is, Saterdag omstreeks 19:15 plaasgevind toe die Ford Escourt waarmee Karelse gery het, in ’n botsing met twee ander voertuie betrokke was. Michaels sê dit wil voorkom of die Ford Escourt eers teen die agterkant van ’n vragmotor gebots het waarna Karelse beheer oor die voertuig verloor het en teen ’n aankomende Honda Ballade gebots het.

Karelse is op die toneel oorlede. Else Karelse wat ook in die voertuig was, het slegs geringe beserings opgedoen.

Vyf persone is in Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandel vir onder meer frakture, waarna een pasiënt oorgeplaas is na die George Hospitaal.

Hoof van provinsiale verkeer gee raad
• Intussen het die hoof van provinsiale verkeer op Oudtshoorn, Gerald Becker, ’n beroep op bestuur­ders gedoen om by spoedbeperkings en padreëls te hou. “Handhaaf ’n veilige volgafstand en moenie ongeduldig raak nie – veral nie op ’n pad soos die tussen Oudtshoorn en De Rust waar daar padwerke is nie. ’n Mens moet ook op­lettend wees en ander in ag neem wat jou dalk nie raaksien nie. Skakel maar jou voertuig se hoofligte aan en pas jou spoed aan by omstandighede.”

Becker sê hy hoor ook tans van baie mense wat wilde diere op paaie teenkom en vra dat mense daarom na sononder versigtig moet bestuur.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?