Dit is Leesfees op Prins Albert

Van Prins Albert se kinders het die week solank in die plaaslike biblioteek gaan kyk watter boeke hulle kon vind wat op die feesprogram is. Hier van links is Teagan Morrison  (12), Marco Mulder (12), Iman Booley (11) en Ashwin Sarels (12). Foto: Barry Lamprecht

Deur Marlene Malan
ENTREPRENEURSKAP en plaas­like betrokkenheid kenmerk vanjaar se Prince Albert Leesfees.

Dit is een van die redes waarom dié geleentheid vanjaar in die sale van die skouterrein in Jan Louwstraat gehou word. Ná ses suksesvolle Lees­feeste in die Jans Rautenbach Schouwburg het die fees in so ’n mate uitgebrei dat die organiseerders die sprong moes maak na ’n veel groter kompleks.

Verskeie kosmakers wat op verskillende kossoorte en kosstyle fokus bied vanjaar hul spesialiteite hier te koop aan, met ’n gevestigde restaurant op die perseel wat ook etes bedien. Dit gee dié dorpsentrepreneurs die kans om deel te word van hierdie kultuuraanbieding.

Die Prins Albertse landbougenootskap en skoukomitee, onder leiding van Madri Rossouw, berei al die sale, sowel as die restaurantstoep voor; die dorp se klanktegnikus – Tobie Gous – stel dié stelsel op en bou verhoë; en inwoners tree op as kaartjieverkopers en -kontroleerders.

Volgens die Leesfeeskomitee was dit hulle oogmerk om die fees ook in ’n sakegeleentheid te omskep en só dorpsinwoners betrokke te kry.

’n Skryfkompetisie vir plaaslike inwoners – leerders en volwassenes – is nog ’n inisiatief om almal deel te maak van dié boekefees wat hom in sy sewende aanbiedingsjaar gevestig het as ’n gesogte geleentheid op die Suid-Afrikaanse literêre kalender.

Die afskop-aanbieding is ook ’n vertoning van plaaslike talent: Va­naand (1 November, 18:30) stel die dorp se kookskool, African Relish, sy splinternuwe kosboek bekend by dié mooi eetplek in Kerkstraat. Die boek, African Relish: A collection of recipes and experiences from a Karoo town, to mark a decade of food and cooking, sal hier te koop wees, terwyl die teksskrywer, Russel Was­serfall – ’n bekende in koskringe – oor die inhoud gaan gesels. Geregte word bedien wat voorberei is van resepte uit die boek.

34 skrywers tree by vanjaar se Leesfees op, met die spanningsverhaalskrywer Deon Meyer seker die bekendste. Hy sal tydens twee sessies optree. Musiek is ook volop, met die orkeste Hatchetman, Orwellington en die lepelkitaarspeler Hannes Coetzee, saam met die ghoemadigter Loit Sôls.

• Kry aanlyn kaartjies en die volledige program deur die Prince Albert Leesfees-app af te laai of by www.princealbertleesfees.org

Log in with your credentials

Forgot your details?