Diewe teiken hekbatterye

Deur Angelique Erasmus
OUDTSHOORN se woonbuurte loop die afgelope drie maande deur onder die diefstal van die batterye van outomatiese motorhekke, en dit wil voorkom of dié tendens aan die toeneem is.

Die diefstal kom oral voor en besighede en skole loop ook deur.

Volgens Dries Jooste, ’n plaaslike buurtwaglid, het die Klein Karoo Groep se vere-afdeling al twee batterye verloor en is ’n battery ook by die Hoërskool Oudtshoorn se een koshuishek gesteel.

“Die grootste probleem is dat mense nie altyd die misdaad by die polisie aanmeld nie. Al merk die publiek net hul batterye met verf, en plaas dan ’n beskrywing op hul buurtwag se whatsapp-groep wanneer dit gesteel word, sal ons die probleem kan begin beveg,” sê Jooste.

Volgens Mariétte Barnard, eienaar van ’n slotwinkel, het hulle in die afgelope twee weke sowat tien batterye vervang. Sy sê ongelukkig bly nie net die battery in die slag nie, maar moet die hele eenheid vervang word. ’n Hekmotor en installasie kos sowat R5000 as die hele eenheid vervang moet word.

Barnard sê daar is egter ’n teendiefstaltoestelletjie te koop wat kan verhoed dat die hekmotor oopgemaak kan word.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoer­der van die Oudtshoorn Polisie is vier sake vanaf 1 November by hulle aangemeld.

“Die SAPD besoek gereeld die tweedehandse plekke en skrootwerwe. Mense word gevra om die batterye te merk om dit vir ons makliker te maak om dit uit te ken as ons dit by die plekke kry,” het Visser gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?