Die ou dae van washuise … en die hede van ’n droogskoonmakery

Die nuwe eienaars van Super Droogskoonmakers en Wassery by hul personeel. Hier van links is Gertruida Lukas, Cynthia le Roux, Elize van Wieling, Susan, Poem en Conrad Mooney en Mary-Anne Rabie.

Die nuwe eienaars van Super Droogskoonmakers en Wassery by hul personeel. Hier van links is Gertruida Lukas, Cynthia le Roux, Elize van Wieling, Susan, Poem en Conrad Mooney en Mary-Anne Rabie.

Die ou gebou met die datum 1912 wat bokant sy deur staan, was dekades gelede Oudtshoorn se munisipale washuis. Dit is naby die hoek van Voortrekkerweg en Jacobsonstraat geleë en talle motors en voetgangers beweeg daagliks by dit verby. Poem Mooney vertel in die berig links meer oor hoe dit by so ’n washuis gewerk het.

Die ou gebou met die datum 1912 wat bokant sy deur staan, was dekades gelede Oudtshoorn se munisipale washuis. Dit is naby die hoek van Voortrekkerweg en Jacobsonstraat geleë en talle motors en voetgangers beweeg daagliks by dit verby. Poem Mooney vertel in die berig links meer oor hoe dit by so ’n washuis gewerk het.

DIE omgewing van Rand- en Jacobsonstraat is reeds dekades lank dié plek waar inwoners van die dorp se wasgoed gewas en gestryk word, vertel die bekende Poem Mooney, Oudtshoorniet en storie­verteller van formaat.

En dit is vandag steeds so.

Mooney gesels met Die Hoorn by sy vrou, Susan, en haar suster, Elize van Wieling, se besigheid – Super Droogskoonmakers en Wassery – wat ook in Randstraat geleë is. Hulle het dit onlangs by hul broer, Ben van Wyk, oorgeneem.

Die washuise van dekades gelede toe hy ’n kind was, was groot werkskeppers, sê Mooney, met manne soos oom George Macgregor en Neville le Roux wat met hul fietse met mandjies op deur die dorp gery het om wasgoed te kollekteer en weer af te lewer.

“Aan die bopunt van Jacobsonstraat was die munisipale washuis waar klere gewas, gebleik, gestysel en gestryk is. Anties soos ant Katrien, ant Bet en ant Meg Swanepoel het soggens ingekom en as entrepreneurs daar gewerk.

“Soggens is seep, blousel, spatemmers en ysters aan hulle uitgereik, en dan het elkeen op haar eie begin werk. Die washuis het ’n deel van die geld geneem en die res is aan die vroue uitbetaal.”

Mooney onthou die washuise van sy kinderdae helder, en ook die sloot waarin die lou water van die washuis tot by die lokasie geloop het waar oom Jan, die waterfiskaal, ’n tuin gehad het.

Hy onthou hoe hulle kaalvoet in die lou water geloop het en hoe lekker dit op ’n koue dag was. Van die water het ook deurgeloop na die munisipale sementwasbakke in die omgewing van Olivestraat. Hier kon inwoners hul eie wasgoed was en ná die tyd op die gras droogmaak.

Mooney vertel dat nog ’n wassery, die Oudts-hoorn Stoomwassery, in Randstraat geleë was en mense veral swaarder items soos komberse daar-heen geneem het.

• Super Droogskoonmakers is in 1984 in Baron van Reedestraat deur ’n mnr Marais begin. Dit was in daardie dae hoofsaaklik ’n droogskoonmakery met ’n klein wasafdeling. Dit is later deur ’n mnr Vlok gekoop wat dit na Randstraat geskuif het. Van Wyk het dit 13 jaar gelede by hom gekoop.

Susan Mooney sê hulle wil graag die besigheid uitbrei en hoop Oudthoorniete sal hulle ondersteun. “Ons is soos die washuise van die verlede ingestel op werkskepping,” sê sy.

Die personeel sluit haar seun Conrad in, asook Mary-Ann Rabie wat nou weer by die besigheid werk nadat sy in die 1980’s en 1990’s ook daar gewerk het, Cynthia le Roux en Gertruida Lukas wat deeltyds betrokke is.

Hulle is ook trots op ’n hoërskoolleerder van Oudtshoorn, Romario de Laan, wat reeds vakansiewerk by hulle begin doen het.

Log in with your credentials

Forgot your details?