Dié adjunk-balju wil nou eerder skuld ontken

Deur Angelique Erasmus
’N ADJUNK-BALJU van Outshoorn, Louwayne Wagenaar, wat op 11 Oktober in die Oudtshoorn Landdroshof op dertien aanklagte skuldig bevind is, het Dinsdag in ’n hofverskyning aangedui dat hy sy pleit van skuldig na een van onskuldig gaan verander.

Die aanklagte waaraan hy skuldig bevind is, sluit sewe van bedrog, twee van vervalsing en vier van meineed in.

Hy word ook nie meer deur adv Benito Mtembo verteenwoordig nie. Sy nuwe regsteenwoordiger is Clyde Avontuur.
Avontuur het die hof versoek om die saak in opdrag van sy kliënt uit te stel.

Die saak is uitgestel tot 26 November, wanneer ’n verduideliking gegee sal word oor waarom Wagenaar sy pleit gewysig het.

Bewysmateriaal sal ook aangebied word wat relevant sal wees tot sy getuienis.

Avontuur het die hof om verskoning gevra vir die ongerief wat dit veroorsaak, maar gesê dit is in die belang van geregtigheid dat die beskuldigde die geleentheid gegun word.

Wagenaar is in 2015 ook deur landros JC Nortjé skuldig bevind op aanklag van menseroof en tot nege maande tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is, asook op aanklag van aanranding waarvoor hy twee maande tronkstraf of ’n boete van R500 opgelê is.

• ’n Ander adjunk-balju, Daniel Wagenaar, is vroeër ook aan bedrog skuldig bevind en hy is op 18 Oktober ’n boete van R8000 of ses maande tronkstraf opgelê.

Nog ’n adjunk-balju, Nigel Cupido, is op 9 Oktober ook gevonnis tot ’n boete van R8000 of ses maande tronkstraf nadat hy skuldig bevind is op 14 aanklagte van bedrog.

Log in with your credentials

Forgot your details?