Deel van pad tussen Oudtshoorn en De Rust oorgebou

De Rust-pad einde September 2017
SOWAT 1,8 km van die nuwe pad tussen Oudtshoorn en De Rust wat tans onder konstruksie is word, moet oorgebou word.

Volgens Byron la Hoe, woord­voerder van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, is sowat 1,8 km van die padlaag afgekeur tydens die deurlopende kwaliteitkontrole van die bouwerk.

“Die kontrakteur is opdrag gegee om dié deel van die werk teen sy eie koste oor te doen,” het La Hoe gesê.

Die pad word deur die kontrakteur NMC Civils gebou nadat die tender deur die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke aan hulle toegeken is.

La Hoe sê die gehalte van die bouwerk sal deurgaans noukeurig gemoniteer sal word.

“Indien die kontrakteur se prestasie die suksesvolle voltooiing van die projek in gevaar stel, is ons bereid om die vlak van ons ingryping waar nodig te verhoog en verdere stappe te doen om ons belange en die belange van die belastingbetalers te beskerm.”

La Hoe het op bewerings in Oudtshoorn dat die kontrakteur finansiële probleme het en plaaslike verskaffers nie deur hulle betaal word nie, gesê die nodige finansiële waarborge is in plek.

“Daar is ‘n span professionele persone wat die vordering, kapasiteit, kwaliteit en finansiële risiko’s van die kontrakteur gereeld assesseer. Al hierdie intervensies is daarop gemik om te verseker dat die belange van die belastingpligtige goed beskerm word.”

• Dié R213 miljoen-projek van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke om die pad tussen Oudtshoorn en De Rust op te gradeer sal na verwagting vroeg in 2019 voltooi word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?