Carol Ann (19) se knie in botsing vergruis

Carol Ann van Rensburg (19).
Die Air Mercy Service (AMS)-helikopter en personeel staan Dinsdagmiddag in Rademeyerstraat op Oudts­hoorn gereed om die ernstig beseerde Carol Ann van Rensburg na die George Hospitaal te vervoer. Foto: Verskaf deur AMS.

Die Air Mercy Service (AMS)-helikopter en personeel staan Dinsdagmiddag in Rademeyerstraat op Oudts­hoorn gereed om die ernstig beseerde Carol Ann van Rensburg na die George Hospitaal te vervoer. Foto: Verskaf deur AMS.

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n 19-jarige meisie van Oudtshoorn Dinsdag ernstig beseer is toe haar bromponie deur ’n vragmotor getref is.

Sy is van die ongelukstoneel met die AMS-helikopter na die George Hospitaal geneem.

Carol Ann van Rensburg, ’n student aan die National Computer College op Oudtshoorn, is tans in die hoësorgeenheid, maar volgens haar ma, Ansie van Rensburg, buite gevaar.

Carol Ann se linkerknie is in die botsing vergruis en ’n gedeelte van haar kuitspier is ook weg. Sy het ook ’n wond teen haar kop, maar het gelukkig geen breinbesering opgedoen nie.

Volgens Capt Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing omstreeks 12:30 op die hoek van Oostelike Weg en Rademeyerstraat plaasgevind.

“Na bewering het die bestuurder van die trok in Rademeyerstraat afgery toe die motorfiets regs in Oostelike Weg ingedraai het. Die vragmotor het die motorfiets getref.”

Ooggetuies op die toneel het gesê die vragmotor het oor ’n stopteken gery voordat dit die brom­ponie getref het. Die bromponie het in die botsing onder die vragmotor beland. Die vragmotor het beide Carol Ann se bene getref.

Michaels het bevestig dat die vragmotor aan ’n bestuurskool behoort. Sy sê die bestuurder van die vragmotor is deur die Polisie van die toneel verwyder ter wille van sy eie veiligheid nadat omstanders op die toneel opstandig geraak het. Hy is volgens Michaels nie in hegtenis geneem nie.

Carol Ann is op die toneel deur die Oudtshoorn Nooddienste bygestaan totdat sy per helikopter hospitaal toe geneem is.

Sy het gister ’n operasie ondergaan waartydens haar knie volgens haar ouers opgebou is en met skroewe en ’n plaat geheg is.

Teen druktyd was sy steeds aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en nog onder verdowing. Haar toestand was stabiel.

Me Van Rensburg sê haar dogter sal nou haar studie moet staak sodat sy eers kan rehabiliteer.
“Sy sal haar been behou, maar sal dit nie meer kan buig nie en ons weet nie of sy weer sal kan loop nie.

“Ek is raad-op. Niemand is in hegtenis geneem nie. My kind kon dood gewees het,” het van Rensburg gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?