
Die Oudtshoorn Brandweer verlede Donderdag besig om die brand te blus. Foto: Schalk le Roux

Die twee helde wat Donderdag die brand met tuinslange begin blus het, Llewellyn Dickens en Tando Msiya. Foto: Cathy van Huyssteen
Deur Liesel le Roux
’N MAN is verlede Donderdag in hegtenis geneem nadat ’n veldbrand langs die Palmoord in Oudtshoorn uitgebreek en van die huise in ’n stadium bedreig het. Die kwik het dié dag tot meer as 46 grade C gestyg met die SA Weerdiens wat ’n brandwaarskuwing uitgereik het as gevolg van droë en winderige toestande.
Ewerts Fredericks het Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op ’n klag van opsetlike saakbeskadiging. Hy het na bewering vuur in die veld gemaak wat tot die brand gelei het.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Fredericks deur lede van die publiek gearresteer en die polisie ontbied. Die polisie het hom daarna in hegtenis geneem.
Die oordbestuurder, Cathy van Huyssteen, sê die brand het omstreeks 11:00 uitgebreek in die veld wat die Palmoord en die Calitzdorp-pad skei. ’n Rukwind het die vlamme in die rigting van die oord aangejaag en inwoners is in ’n stadium gewaarsku om op gereed te wees om te ontruim.
“Die brand het inwoners se vrese oor mense wat in die veld woon en vuur maak bewaarheid,” sê Van Huyssteen. Sy sê daar is herhaaldelik die afgelope twee jaar met die munisipaliteit hieroor gepraat en gekorrespondeer en hulle is versoek om mense wat onwettig daar slaap, te verwyder en munisipale ordonansies toe te pas. Dié stuk grond behoort aan die munisipaliteit.
Van Huyssteen het van haar talle e-posse hieroor aan Die Hoorn getoon. Donderdag was nie die eerste keer dat die veld aan die brand geraak het nadat mense daar vuur gemaak het nie. Op 9 Januarie 2017 is die volgende skrywe aan die kantoor van die speaker gerig: “Soos met u bespreek, neem die aantal bosslapers geweldig toe die laaste tyd. Laat smiddae loop hulle langs die pallisade (die heining tussen die Palmoord en die veld)… en maak hul dan tuis onder die bome waar hulle die nag deurbring, drank verorber en vuurmaak. As gevolg van die droogte en sterk winde wat daagliks waai, is daar ’n bekommernis dat ’n veldbrand kan ontstaan. Die brandweer het juis onlangs ’n vuur geblus wat die bosslapers aangesteek het.”
Van Huyssteen sê werkers van die Palmoord maak gereeld ’n gebied van sowat twee meter langs die heining skoon om as ’n soort voorbrand te dien omdat die munisipaliteit nie voorkomend optree nie. Dié skoongemaakte strook het Donderdag help keer dat die brand na huise versprei.
Volgens een van die inwoners, Alet Badenhorst, was dit egter naelskraap. Sy sê vlamme het aan dele van die ’n heining begin lek voordat die brandweer opgedaag het, en ook aan haar bure se bome en haar hout-tuinhuisie langs die heining.
“Gelukkig was daar twee helde wat kom help het!”
Twee munisipale werkers wat besig was om vullis in die oord te verwyder, Llewellyn Dickens en Tando Msiya, het volgens Badenhorst alles net so gelos, oor mure gespring en begin om met tuinslange die vlamme te blus en die bome en tuinhuisie nat te spuit sodat dit nie begin brand nie.
Inwoners van die oord het na die brand dié twee werkers geloof, en ook die brandweer wat in erge hitte die brand geblus het.
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die munisipale wetstoepassers patrolleer tans 24 uur die stuk grond en die toepaslike ordonansies van die munisipaliteit word afgedwing.