Brand eis twee in Schoemanspoort

Die liggaam van een van die mense wat Maandag in ’n brand gesterf het, word deur forensiese personeel uit die huis verwyder. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N MAN en vrou is Maandag in die vroeë oggend-ure oorlede nadat die opslaanhuis waarin hulle in Schoemanspoort gewoon het, aan die brand ge­slaan het.

’n Geskokte Ian Blaauw het die oggend op die toneel vertel hy het sy ma, Jeanetta Blaauw, en sy pa, Adam Jansen, Sondag omstreeks 18:00 die laaste keer gesien.

Maandagoggend omstreeks 06:00 het hy rook by sy ouers se huis gewaar. Toe hy by die huis kom, was dit reeds te laat.
Sy ma se liggaam is op ’n trommel in die hoek van die kamer gevind en sy pa se liggaam naby die ingang van die opslaanhuis.

Hul liggame is later die oggend deur die forensiese span verwyder.

Jansen se liggaam moes egter eers deur die Oudtshoorn Brandweer natgemaak word omdat dit steeds gesmeul het en nie in ’n lyfsak geplaas kon word nie.

’n Suster van Jansen wat by die toneel opgedaag het, was hewig onsteld deur die dood van haar broer. Sy moes vanaf die forensiese voer­tuig waarin die liggame vervoer sou word, verwyder word.

Die gebied waar die huis gebrand het, is baie ruig en moeilik bereikbaar. Die Oudtshoorn Brandweer kon na fyn beplanning wel uiteindelik daarin slaag om een voertuig naby genoeg te bring.

Log in with your credentials

Forgot your details?