Bouwerk tot stilstand sedert 4 Desember

Op die pad tussen Oudtshoorn en De Rust is sedert 4 Desember slegs stop-en-ry-punte te sien nadat die kontrakteursfirma sy werkers op 4 Desember vir die Kersvakansie onttrek het. Volgens die firma sal werkers “volgende week” terug wees.                     Foto: Liesel le Roux

Op die pad tussen Oudtshoorn en De Rust is sedert 4 Desember slegs stop-en-ry-punte te sien nadat die kontrakteursfirma sy werkers op 4 Desember vir die Kersvakansie onttrek het. Volgens die firma sal werkers “volgende week” terug wees. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE herbouing en opgradering van die R341 tussen Oudts­hoorn en De Rust het tot tot stilstand geknars nadat die kontrakteursfirma klaarblyklik vroeër as oor­een­gekom vir die Kersvakansie gesluit en hul werkers nog steeds nie teruggekeer het nie.

Die pad is sedert 4 Desember verlate met net stoprypunte wat beheer word nadat die Wes-Kaapse regering ingegryp en die verkeers-subkontrakteur vir die vakansie aangestel het.

Volgens Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, het die kontrakteur, NM Civils, werkers 10 dae vroeër as wat hulle veronderstel was, onttrek en vir die Kersvakansie gesluit. La Hoe sê die werkers sou op 10 Januarie teruggekeer het van hul vakansie, maar dat dit nie gerealiseer het nie.

“Ons verstaan dat die toesighoudende personeel op 22 Januarie sal terugkeer, maar nie die Wes-Kaapse Regering of die ingenieur is formeel hiervan in kennis gestel nie.”

James Dow, projekbestuurder van NM Civils, het Maandag aan Die Hoorn gesê werkers sal weer “volgende week” op die terrein wees.

Bouwerk aan die pad is die laaste maande in omstredenheid gehul met ’n hangende hofgeding tussen die Departement van Vervoer en NM Civils. Die hofgeding spruit uit die beëindiging van NM Civils se kontrak vir die bou van die pad deur die Departement van Vervoer, waarna NM Civils ’n tydelike hofbevel verkry het wat die departement verbied om die kontrak te beëindig. Die departement staan die tydelike hofbevel teen.

“Ons is op 18 Desember ingelig dat NMC Civils (Pty) Ltd en ’n aantal ander besighede wat met die NMC-groep geassosieer word, onder sake-redding geplaas is.” (Die besonderhede hiervan is op die webwerf www.nmc.co.za beskikbaar.)

Dié R213 miljoen-projek om die R341 tussen Oudtshoorn en De Rust op te gradeer het in Maart 2017 afgeskop.

Nadat bouwerk ’n paar maande aan die gang was, het die Departement van Vervoer sowat 1,8 km van die nuwe pad afgekeur en NM Civils opdrag gegee om dié gedeelte op eie koste oor te bou.

Subkontrakteurs het ook gekla dat hulle nie deur NM Civils betaal is nie. Dow het op navraag gesê hy kan nie op dié be­weringe kommentaar lewer nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?