Blommetjie sal kies wie Saterdag R10000 wen!

DIE Laerskool Laurus in Oudts­hoorn-Noord se skoolterrein gaan Saterdag ’n miernes van lekker en in­teressante bedrywighede wees met die eerste Groei Saam Laurus Mark­dag wat die skool gaan aanbied.
Ronelle Huysamen, skoolhoof, nooi alle inwoners van Oudtshoorn en omstreke om dié gesinsdag te kom geniet. Lekker eetgoed, lekker pret en vermaak, interessante en leersame ak­tiwiteite, en Markdag-stalletjies met ’n verskeidenheid produkte, vorm alles deel van die Groei Saam Markdag, sê sy.
Tydens die Markdag, wat al môre begin, gaan die kollig op landbou en die omgewing val.

Die doel van die Markdag is onder meer om fondse in te samel om verbeteringe by die skool aan te bring.
“Deur die Markdag met geesdrif en oorgawe aan te pak, beoog ons om genoeg fondse in te samel sodat ons nie gedurig moet bakhand staan vir projekte nie. Ons sal inwoners se ondersteuning baie hoog op prys stel,” sê Huysamen.

’n Item Saterdag wat hope pret belowe, is die Beesloop om 13:00 met ’n prysgeld van R10000 vir die wenner of wenners.

Die Beesloop werk as volg:
Die skool se rugbyveld word in blokke opgedeel. ’n Skaalmodel van die rugbyveld met die blokke dien­ooreenkomstig aangebring word op ’n rekenaar uiteengesit. Deelnemers gee ’n donasie van R10 per blok. Deelnemers mag meer as een blok besit – een blok per donasie.

Saterdag om 13:00 gaan ’n koei, Blommetjie, op Laurus se rugbyveld losgelaat word om te wei. Wie die R10000 gaan wen, hang alles af van waar Blommetjie eerste gaan mis. Die blokhouer van die blok waarop Blommetjie eerste mis, is die ge­lukkige wenner! Indien die “eerste” mis oor meer as een blok versprei is, word die betrokke prysgeld gedeel.

Daarom kan verwag word dat verskillende blokhouers vir Blommetjie op verskillende tye gaan aanmoedig om te mis, afhangende op wie se blok sy wei!

Benewens die R10000 sal daar ook ’n gelukkige trekking wees waar­in vyf deelnemers R1000 gaan wen. ’n Verskeidenheid stalletjies sal Saterdag van 09:00 tot 18:00 interessante produkte te koop aanbied.
Gedurende die dag kan Markdaggangers ook heerlik eet by die Mark­dag Restaurant wat deur Johnita Marx Spyseniering bedryf gaan word. Lekker volstruisvleisgeregte sal deel van die spyskaart wees. ’n Teetuin in ’n rustige plaasatmosfeer op die terrein gaan tee (of koffie) en heerlike tuisgebak aanbied.
Vir die kleingoed sal daar deurlopend vermaak onder toesig in ’n veilige plek wees. Kindervermaak sluit in spring, gly en gesigverf .

Die ingang na die Markdagterrein is vanuit Van der Rietstraat.
Vir volledige inligting oor die Groei Saam Markdag, besoek ­Laerskool Laurus se webblad by laerskoollaurus.co.za of skakel 044 272 3946 vir navrae.

Log in with your credentials

Forgot your details?