Betogers vra vir Gordon April se vrylating

Van die betogers vanoggend voor die Oudtshoorn Landdroshof. Foto: Ilze-Mari Grundling

Van die betogers vanoggend voor die Oudtshoorn Landdroshof. Foto: Ilze-Mari Grundling

Sowat tien mense het vanoggend met plakkate buite die Oudtshoorn Landdroshof gevra dat oud-burgemeester Gordon April vrygelaat word uit aanhouding.

April is op 5 April gevonnis en wag sedertdien dat sy aansoek om verlof tot appèl aangehoor word. Sy aansoek kon nog nie aangehoor word nie omdat landdros Mark van Wyngaardt siek is.

April is tot effektief vyf jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan diefstal van sand en klip van die munisipaliteit, die onwettige gebruik van munisipale voertuie, intimidasie en regsverydeling.

Volgens een van die mense buite die hof, Alec Theo (49), sê dit is onregverdig dat April aangehou word terwyl moordernaars en verkragters vry is. “In 2013 het ’n taxi-bestuurder my met ’n ketting gewurg en vandag loop hy vry omdat ’n dokument in my verklaring weggeraak het. Gordon April word heeltyd aangehou vir nonsens en dit is nie reg nie.” (Berig deur Ilze-Mari Grundling)

Van die betogers het gesê hulle glo dat April nie gesteel het nie, maar dat hy net munisipale eiendom beskerm het. Hulle glo ook dat die hof en Afriforum teenoor April en die KhoiSan diskrimineer.

Log in with your credentials

Forgot your details?