Beeskarkas tussen opdrifsels gevind

 

'n Beeskarkas wat tussen die opdrifsels by die laagwaterbrug van De Oude Meul gevind is.

‘n Beeskarkas wat tussen die opdrifsels by die laagwaterbrug van De Oude Meul gevind is.

Daar is vanoggend met opruimingswerk by De Oude Meul Gasteplaas sowat 15 km buite Oudtshoorn op pad na die Kango Grotte begin nadat die laagwaterbrug op die plaas laasnag oorstroom het.

‘n Beeskarkas, wat deur die vloedwaters meegesleur is, is tussen die dryfhout gevind.

Die bees het vermoedelik gisteraand omstreeks 21:00 by die Cango Caves Estate net onderkant die Kango Grotte in die vloedwater, wat van De Hoek se kant gekom het, beland en is tot by De Oude Meul, sowat 10 km verder, meegesleur waar dit vanoggend gevind is. Dit het vroeër die aand baie hard gereën en gehael.

Volgens Jean Botha van Cango Caves Estates is ‘n hele paar van hulle beeste deur die vloedwater meegesleur, maar het almal, behalwe drie wat versuip het, dit reggekry om uit die water te kom. “Daar het ook een van ons springbokke versuip,” het hy gesê.

Volgens Boytjie Spies, eienaar van De Oude Meul, het die vloedwater omstreeks 22.30 by De Oude Meul aangekom en het dit 15 minute later ‘n hoogtepunt bereik waarna dit weer geleidelik begin daal het.

Dr Victor & The Rasta Rebels, wat elke jaar tydens die KKNK by De Oude Meul bly, het daar aangekom terwyl die brug nog onder die vloedwater was.

Hulle het toe besluit om ‘n hangbrug oor die rivier aan te durf om by hul verblyfplekke uit te kom, en in die proses maar ‘n paar benoude oomblikke beleef, word verneem.

Ander gaste het egter nie vir die hangbrug kans gesien nie, en is vanoggend omstreeks 01:30, nadat die water al heelwat gesak het, met ‘n CAT-laaigraaf deur die rivier na De Oude Meul gebring.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?