Bakkie ploeg in stalletjie

Bo en onder: Die bak­kie wat in die roosterkoekstalletjie ingery het.  Foto’s: Garnett Wicomb

Bo en onder: Die bak­kie wat in die roosterkoekstalletjie ingery het. Foto’s: Garnett Wicomb

Bakkie ploeg in roosterkoekstalletjie Garnett

Die be­skadige huur­motor van twee toe­riste.

Die be­skadige huur­motor van twee toe­riste.

Gert en Elsie van Beling, eienaars van die stalletjie. Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Gert en Elsie van Beling, eienaars van die stalletjie. Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
ELSIE VAN BELING (59) is verlede Vrydag vir skok behandel nadat ’n wit Corsa-bakkie omstreeks 10:00 in haar en haar man, Gert, (63) se roosterkoekstalletjie in Voortrekkerweg op die hoek met Hoogstraat vasgery het.

Dit is die tweede soortgelyke noue ontkoming vir die Van Belings, eienaars van dié bekende Klein Begin Roosterbroodstalletjie. ’n Rooi Renault Clio het op 14 Junie 2016 ook in dié stalletjie vasgery.

Die Van Beling-egpaar woon op De Rust en vertrek elke oggend vroeg na Oudtshoorn om hul roosterkoek by die stalletjie te verkoop.

Elsie sê die bakkie het reg voor haar tot stilstand gekom.

“Dit het reg voor my voete gestop waar ek gesit het. Ek kon dood gewees het! Die paramedici het my baie vinnig gehelp, en ek is dankbaar daarvoor.”

Die Van Belings was erg onsteld oor die skade aan hul stalletjie.

“Ek het sopas ’n nuwe staaltafel gekoop en dit is nou daarmee heen. Nou moet ek weer die ou, lelike een gebruik. Om nie eers te praat van die broodjies wat in die botsing verlore is nie – dit is baie skade,” het Elsie op die toneel gesê.

“Ons verdien nie so baie geld dat ons gerieflik kan lewe nie. Nou moet ons wéér van voor begin. Dit is so onnodig.”

Volgens ooggetuies het die bakkie vinnig met Voortrekkerweg vanuit Dysselsdorp se rigting oor die rooi verkeerslig op die hoek van Hoogstraat gery toe dit met ’n bruin Toyota Corolla gebots het.

Die Toyota Corolla is deur twee Duitse toeriste, Silvia en Daniel Fromm van München, bestuur.

Volgens Sylvia het hulle in Hoogstraat vanuit die middedorp se rigting met die gehuurde motor gery toe die Corsa-bakkie in hulle vasgery het.

“ ’n Verkeersmotor het langs ons gery. Ons het gewag vir die rooi lig om oor te slaan na groen, en toe ons sien dat die verkeersmotor ook ry, het ons beweeg. Ons het nie die slag verwag nie,” het Silvia gesê.

“Ons dag het so rustig en goed begin. Ons het nog net meerkatte gesien, en toe gebeur dit. Met die slag het die bakkie in die stalletjie vasgery. Dit het nie gelyk asof hy van plan was om te stop nie.”

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die bestuurder van die bakkie ’n verkeersboete ontvang en is niemand in die voorval beseer nie. Geen saak word ook deur die polisie ondersoek nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?