Aangerand en beroof van kar

‘Ek het nooit gedink iemand sal so iets doen aan ’n ou mens nie’

Deur Ilze-Mari Gründling
’N 28-JARIGE man wat Sondag­oggend ’n 81-jarige inwoner van Oudtshoorn in die begraaf­plaas aangerand en van haar wit Toyota Tazz beroof het, is enkele ure na die voorval deur die Oudtshoorn Polisie vasgetrek.

“Ek het gedink ek gaan net ’n paar minute na die begraafplaas om my man se graf skoon te maak,” het Jean Arries die week oor die voorval gesê. Arries is ’n oud-onderwyser van Oudtshoorn, en was jare lank voorsitter van die Oudtshoorn Rooi Kruis en ’n vrywillige werker vir Kansa. Sy is in 2012 deur Die Hoorn met ’n spesiale toekenning vereer vir haar liefdeswerk in die gemeenskap.

Arries sê die man het haar van agter om die nek gegryp waar sy met ’n besem haar man se graf wou skoonvee. In die worsteling wat ont­staan het toe die man haar sleutels af­geneem het, het sy op die grond geval.

“Hy het gesê hy wil my karsleutels hê. Ek het dog dis die einde van my.”

Arries sê toe hy met haar kar wegjaag, het sy huis toe geloop en haar buurman gevra om die polisie te skakel.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Arries omstreeks 11:45 van haar motor beroof en het die polisie dit onstreeks 14:00 by die ingang na die skou­terrein in die dorp gevind en die man in hegtenis geneem.

Die man is steeds in aanhouding en sal Donderdag 5 April in die Oudts­hoorn Landdroshof verskyn.

• “Ek is baie dankbaar teenoor die polisie, die speurders en my vriende. Ek is baie dankbaar vir almal se onder­steuning en hulp,” het Arries Dinsdag gesê.

Verskeie inwoners het Sondag ingespring en die polisie help soek nadat dit bekend geword het dat ’n motor op die dorp gesteel is.

Arries sê inwoners nie moet dink dat so iets nooit met hulle sal gebeur nie. “Ek het ook gedink dat so iets nooit met my sal gebeur nie. Ek het nie gedink iemand sal so iets aan ’n ou mens doen nie. Maar dit kan, en dit het. Dit kan met enigeen gebeur.

Moenie alleen na die begraafplaas gaan nie. Neem iemand saam met jou, waar ookal jy gaan. Wat my die meeste ontstel is dat die man so ordentlik gelyk het, en in ’n oogwink het hy sy hele lewe omver gegooi.”

Log in with your credentials

Forgot your details?