42 000 Liter diesel beland in poort

Rivier besoedel Die tenkwa (bo) waar dit in Mei­rings­­poort omge­slaan het, en die rivier digby die ongeluks­toneel (links) met diesel sigbaar in die water. Foto’s verskaf

Rivier besoedel
Die tenkwa (bo) waar dit in Mei­rings­­poort omge­slaan het, en die rivier digby die ongeluks­toneel (onder) met diesel sigbaar in die water.  Foto’s verskaf

1 Diesel in water

DIT sal na verwagting sowat twee weke duur om die 42 000 liter diesel wat Dinsdagmiddag in Mei­ringspoort uit ’n stukkende tenkwa geloop het, op te ruim.

Dié dieselstorting het gevolg nadat ’n tenkwa vol diesel Dinsdag omstreeks 11:00 by die derde brug vanaf die Klaar­stroom-kant in Meiringspoort omgeslaan het. Die bestuurder het na bewering beheer oor die voertuig verloor.

Na skatting het sowat 35 000 liter van dié diesel in die Grootrivier beland en die ander in die sand om die botsingstoneel.

Die voertuig was vanaf Voorbaai in Mosselbaai na Beaufort-Wes op pad.

Volgens Freddy Thaver, die Eden Distriksmunisipaliteit se hoof-brandbestryder, het die diesel 500 m ver in die rivier versprei voordat verdere verspreiding beperk kon word.

Boere en gemeenskappe langs die rivier is deur die Oudtshoorn-rampbestuurspan gewaarsku dat hulle en hul diere die rivierwater moet vermy.

Spanne van die Eden Distrikmunisipaliteit het Dinsdag begin om waterfilters by die waterval in Meiringspoort te installeer, terwyl Eden se brand- en reddingsdienste tot gistermiddag onverpoos gewerk het om die dieselstorting te beperk.

Die firma SpillTech is deur die eienaar van die tenkwa aangestel om die toneel op te ruim.
Eden se omgewingspesialis, Nina Viljoen, het gister gesê die verspreiding van die diesel is in ’n groot mate onder beheer nadat ’n tydelike keerwal laer in die rivier gebou is. Volgens haar kan vrektes van wilde diere en waterlewe in die omgewing van die dieselstorting egter verwag word.

“Te oordeel na die voetspore langs die rivier drink wilde diere en vee uit die ri­vier en is hulle almal tans in gevaar.”

Sy sê die invloed van die dieselstorting op die bedreigde rooivin-visse in die rivier is een van die grootste bronne van kommer.

Sentraal-Karoo Rampbestuur het gister beheer van die toneel oorgeneem.

Log in with your credentials

Forgot your details?