Meer as 20 Afrikaanse sangers die vakansie op Hartenbos

Jo Black en Leah,

Jo Black en Leah.

MEER as 20 Afrikaanse sangers, onder wie Robbie Wessels, Jay en Lianie May, Leah, Jo Black en Theuns Jordaan, tree die vakansie in die eerste In Afrikaans-konsertreeks op Hartenbos op.

Die reeks sluit konserte op 20, 24, 26, 27 en 30 Desember en 4 Januarie by ATKV-Hartenbos se amfiteater in. Konsertgangers kan hul eie kampstoele en komberse bring vir ’n lekker kuier.

Daar sal kosstalletjies en ’n kroegtent wees, met CD’s en ander items te koop.

Volgens Jacomien de Villiers van Inhoud Huis Musiek en In Afrikaans, is die program noukeurig saamgestel om iets vir ’n ieder en elk te bied.

Elke vertoning is met inagneming van die betrokke kunstenaars se gesamentlike dinamika op die verhoog saamgestel om die maksimum vermaak aan konsertgangers te bied, sê sy.

Vir die duur van die konserte sal daar JOOX-promotors wees wat konsertgangers sal aanmoedig en help om die JOOX-musiekstroom-toepas­sing (app) te ge­bruik waarmee regstreeks na musiek geluister kan word. Dit kan ook op jou selfoon ge­laai word. Konsertgan­gers kan die toepassing ’n maand lank gratis gebruik.

Op Sondag 24 Desember word Oukers­aand by kerslig onder die sterre saam met Rob­bie Wessels, Jo Black, Leah en Dou­voor­dag gevier. Kers­liedere en ’n orkes sal vir ’n gewyde Kersfeesstemming sorg.

Sken­kings sal dié aand ingesamel word ten bate van Hartenbos Bejaardesorg.

Tydens ’n buitelug-fliekpiekniek wat aan die inry van weleer sal herinner, sal die Afri­kaanse rolprent Susters die eerste keer vertoon word as deel van In Afrikaans. Die fliek word eers vanaf Maart 2018 in rolprentteaters vertoon. Leah, Diaan Lawrenson en Quanita Adams vertolk die rolle van drie aan­genome susters wat weer herenig word ná hul ma se afsterwe. Jo Black en Leah sal die aand ook die temalied, Nooit Alleen, sing.

Op Woensdag 27 Desember word Mnr en Mej Hartenbos gekroon. Vanjaar se Mej Hartenbos kwalifiseer vir die Top 40 in Sarie se Voorbladgesig-kompetisie. Karlien van Jaarsveld, Brendan Peyper, Leah, Jan Bloukaas en Georic Lomas is deel van die aand se verrigtinge.

Op Saterdag 30 Desember, in die doodsnikke van 2017, tree onder andere Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Karen Zoid, Bok van Blerk, Jo Black, Karlien van Jaarsveld, Elvis Blue, Refentse, Fatman, Lianie May en Dewald Wasserfall op.

Die volledige program is: • Woensdag 20 Des om 19:30: Dans In Afrikaans – Kurt Darren, Juan Boucher, Jay en Lianie May, Ricus Nel. • Sondag 24 Des om19:30: Kersfees In Afrikaans. • Dinsdag 26 Des om 20:00: Fliek In Afrikaans. • Woensdag 27 Des om 19:30: Mnr & Mej Hartenbos. • Saterdag 30 Des om 19:30: Hartenbos In Afrikaans. • Donderdag 4 Jan om19:30: Akoesties In Afrikaans – Theuns Jordaan, Riana Nel, Elvis Blue, Jo Black.

Kaartjies: www.itickets.co.za of 086 1000 291. Navrae: 0769646472; jacomien@inhoudhuis.co.za

Log in with your credentials

Forgot your details?