Wykskomitees: Mosie van wantroue in munisipaliteit

MUnisipaliteitDeur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn se wykskomitees het die afgelope Saterdag tydens ’n wykskomitee-assese­ringswerksessie ’n mosie van wantroue in die munisipaliteit ingestel.

“Daar was geen teenvoorstel teen dié mosie nie en verskeie sekondante,” sê Hikkie Marais, lid van Wyk 2 se wykskomitee wat die mosie voorgestel het. Volgens Marais was daar algemene ongelukkigheid onder wykskomiteelede oor die oënskynlike onwilligheid by die munisipaliteit om te luister na inwoners en te reageer op hul behoeftes en navrae.

“Daar is die gevoel dat die munisipaliteit nie erns het met die gemeenskap nie,” sê hy.

Marais en ander lede van ander wykskomitees het aan Die Hoorn gesê hulle was teleurgesteld dat geeneen van die munisipale direkteure of die burgemeester die byeenkoms bygewoon het om te luister en kommunikeer met die wykskomitees nie. Omdat die agenda van die werksessie ook aan die senior amptenare gestuur is, is gehoop dat hulle die werksessie sou bywoon.

Die burgemeester het verskoning aangeteken omdat hy elders ’n verpligting gehad het.

Die wykskomitees het tydens die opleiding­sessie onder meer ’n analise gedoen om die sterk en swak punte van die wykskomiteestelsel op Oudtshoorn te bepaal. Na verneem word, is die feit dat die wykskomitees wel onder die nuwe munisipale bestuur funksioneer, geïdentifiseer as ’n sterk punt wat almal waardeer.

Wykskomitees verteenwoordig die kiesers van die wyk, skenk aandag aan kwessies binne wyke, en bring dit onder die munisipaliteit se aandag.

Die munisipaliteit het nie gereageer op ’n navraag van Die Hoorn oor die instel van die mosie nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?