Vullissakke in strate na staking

Vullissakke vroeër vandag in Jan van Riebeeckweg.

Vullissakke vroeër vandag in Jan van Riebeeckweg.

VULLISVERWYDERING in dele van Wesbank en Bridgton in Oudtshoorn het nie vandag plaasgevind nie nadat ’n groep van 115 tydelike werkers van die Oudtshoorn Munisipaliteit se reinigingsdienste vanoggend met ’n staking begin het.
Vullissakke staan tans talle strate van die dorp vol. Vullis is ook oor middagete voor die munisipale gebou in Voortrekkerweg gestrooi.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is die werkers ontevrede daaroor dat hulle nie vandeesmaand werk nie.
Oliphant sê die munisipaliteit het sedert Januarie ’n ooreenkoms met die spesifieke groep werkers aangegaan om in twee groepe op ’n “maand aan/maand af”-basis te werk – die een groep werk een maand en die ander groep werk die volgende maand.
Die werkers, wat vanoggend by die munisipale depot in Bridgton hul ontevredenheid te kenne gegee het met dié ooreenkoms deur buitebande en ander voorwerpe aan die brand te steek, vra om permanent aangestel te word. Hulle wou hê dat die munisipale bestuurder, Allen Paulse, hulle by die depot te woord moet kom staan.
’n Sterk polisieteenwoordigheid was deurgaans op die toneel, met lede van die polisie se onlusteeenheid (Pops) wat ook later opgedaag het.
Oliphant sê die twee groepe werkers het kontrakte gehad om tydens die feestyd tot 31 Januarie te werk. “Met die beeïndiging van hierdie kontrakte is daar teruggekeer na die vorige ooreenkoms van maand-aan-maand-af as gevolg van die finansiële omstandighede van die munisipaliteit.”
Die situasie was teen vanmiddag nog nie bygelê nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?