Skuldlas word kleiner

Die Oudtshoorn Munisipaliteit is stadig maar seker besig om sy skuldlas te verminder, sê George Kersop, voorsitter van die munisipale raad se finansiële komitee.

Kersop het verlede Donderdag by die jaarlikse gala-aand van die Oudtshoorn Besigheids­kamer, terugvoer gegee oor vordering wat die munisipaliteit tussen 30 Junie en 30 Oktober vanjaar gemaak het.

Skuld wat tydens die vorige munisipale bewind opgehoop het, het afgeneem van R184 miljoen tot R113 miljoen. Die munisipaliteit se skuld aan Eskom is voorts in dié tydperk tot R23 miljoen verminder. Dit het met die aanvang van administrasie by die munisipaliteit verlede jaar op R53 miljoen gestaan.

Goeie nuus is dat die herstel van strate voortduur, danksy hulp van die nasionale en provinsiale regerings. R5 miljoen se MIG (Municipal Infratructure Grant)-fondse is deur die staat aan die munisipaliteit beskikbaar gestel vir die herstel van strate in Bridgton, Dysseldorp en De Rust.

Herstelwerk aan strate in Oudtshoorn-Noord, -Suid en -Wes kan ook voortgesit word nadat die Wes-Kaapse regering R400 000 vir verdere herstelwerk in dié woonbuurte bewillig het.

Kersop het gesê een van die kopsere van die munisipaliteit is die verval van infrastruktuur waaraan die voorafgaande drie jaar geen aandag geskenk is nie. Ten minste 12 persent van die huidige begro­ting is daarvoor opsy gesit.

Volgens hom geniet die invordering van skuld aan die munisipaliteit ook prioriteit, met optrede wat beoog word om water- en elektrisiteitsmeters na te gaan en seker te maak daar is nie mee ge­peu­ter nie.

 

(Deur Liesel le Roux)

Log in with your credentials

Forgot your details?