SKM-burgemeester gaan haar beywer vir meer veilige N1-rusplekke

N1 PA
Deur Marlene Malan
DIE N1 tussen Laingsburg en Beaufort-Wes is gevaarlik – nie net omdat dit ’n eentonige pad is wat motoriste vermoei en tot ongelukke lei nie, maar ook omdat daar min veilige rusplekke langs dié pad is.

So sê dr Annelie Rabie, burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit (SKDM), nadat die berugte pad op Werkersdag die lewe van vyf mense geëis het in ’n botsing reg van voor net buite Laingsburg.

By navraag het Rabie gesê dié kwessie is een wat sy wil aanspreek tydens haar burgemeesterstermyn: Dit is dat daar meer veilige stop- en rusplekke aan dié stuk pad van 200 km gevestig word.

“Verlede week se ongeluk was weer eens een wat in die vroeë oggendure gebeur het.

“Daar is by my geen twyfel nie dat mense uitgeput raak en hul eie vermoë oorskat om snags te ry en nie te vaak te raak nie. Almal in die motor slaap, en daarom is dit maklik om ook aan die slaap te raak as jy nie daaraan gewond is om in die nag te bestuur nie.

“Dieselfde refrein, dat motoriste moet stop as hulle te moeg word, word oor en oor gebruik, maar waar op die N1 is dit veilig om te stop as jy moeg is?

“Tussen Laingsburg en Beaufort-Wes is daar net twee redelik veilige stilhouplekke. Dis die UltraCity by Leeu-Gamka wat 80 km van Beaufort-Wes is, en die vulstasie by Prins Albertweg wat 85 km van Laingsburg is.

“Dis bekend dat daar nie veel pad-patrollering snags is nie. Gewone passasiersvoertuie hét nie ’n veilige plek om te stop nie.
Nou ry almal om by Laingsburg of Beaufort-Wes te kom. Die antwoord lê dus in meer veilige rusplekke.”

Dis ook bekend dat misdadigers langs die pad woon of slaap wat vragmotors beroof, sê Rabie.

Nog ’n oorsaak van ongelukke is die getal groot vragmotors op die pad, volgens haar.

“Ek ry daardie pad daagliks en moet soms vier tot vyf op een slag verbysteek, want hulle ry sonder ’n behoorlike volgafstand tussen mekaar. Of jy sien een voor jou, en as jy langs hom kom, is daar nog ’n paar wat teenaan mekaar op die pad­skouer ry.”

Verkeerspolisie moet, indien nodig, selfs motoriste se sleutels kan afneem en hulle dwing om te rus, indien dit blyk dat die bestuurder oormoeg is, sê sy.

“Miskien is daar entrepreneurs wat daaraan dink om veilige en bekostigbare aftrek- en slaapplek langs die pad te vestig.

“Van munisipale kant kan ons help met hersonering en die vermindering van rompslomp om behoorlike hoëmasbelig­ting op te rig.

“Ons kan die burokrasie help verminder as mense naamborde en kennisge­wings wil aanbring, of as hulle met die SAPD wil skakel om te help met patrollering van slaap- en staanplekke.”

Log in with your credentials

Forgot your details?