Regrukproses op koers

Munisipale skuld krimp vinnig, sê Sylvester

DIE regrukproses van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit is op koers, sê die dorp se burgemeester, Colan Sylvester.

Sylvester het Dinsdag ’n pers­ver­klaring uitgereik met inligting oor vordering wat die afgelope tien maan­de – sedert die nuwe raad in Augustus oorgeneem het – by die mu­­nisipaliteit gemaak is. Hieronder tel ’n groot duik wat die munisipa­liteit gemaak het in die skuld van R110 miljoen wat hulle geërf het. Dit staan tans op R28,5 miljoen.

Sylvester sê die werk wat deur amptenare in dié verband gedoen is, is “merkwaardig”.
Oudtshoorn is in 2015 onder administrasie geplaas. Dié administra­sietydperk het na die plaaslike ver­- kiesings in Augustus 2016 geëindig.

“Een van die redes waarom die Oudtshoorn Munisipaliteit onder administrasie geplaas is, was die on­ver­moë van die raad om gereeld ver­- gaderings te hou waar besluite geneem kon word wat die lewenskwa­liteit van inwoners kon verbeter. Die munisipaliteit is trots daarop dat 17 raadsvergaderings reeds tussen Augustus 2016 en 29 Junie 2017 gehou is,” het Sylvester gesê.

Hy het ook op verskeie praktiese stappe gewys wat oor die afgelope maande geneem is om tot beter bestuur en stabiliteit binne die munisipaliteit te lei. Hieronder tel die vestiging van wykskomitees en die aanstelling van senior bestuurders. Die munisipale topbestuur is tans die eerste keer in meer as vyf jaar vol­ledig.

Sylvester sê hoewel daar goeie vordering gemaak is, lê daar steeds ’n lang pad voor voordat die munisipaliteit daarop aanspraak sal kan maak dat dit finansieel gesond is.

Goeie nuus is dat die skuld aan Eskom vanaf R54 miljoen na R8,3 miljoen verminder is, met Eskom wat ingestem het om verdere rente op die uitstaande skuld af te skryf.

Die munisipaliteit ervaar egter steeds ’n kontantvloeiprobleem en talle finansiële uitdagings wat op ’n daaglikse basis hanteer moet word.

“In die lig van die vordering tot dusver bly ons positief dat die munisipaliteit sy teiken vir finansiële herstel ingevolge die herstelplan sal bereik en sy finansiële posisie sal bly verbeter tot op ’n punt van finansiële volhoubaarheid oor die medium- en langtermyn.”

• Die volledige persverklaring kan gelees word op diehoorn.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?