Raad stel maatreeëls in om water te bespaar

Waterclipart
Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het gister by ’n raadsvergadering waterbesparingsmaatreëls ingestel wat onmiddellik van krag is.

Die waterbesparingsmaatreëls is ingestel in die lig van laer reënval as gewoonlik in die winter en die warm somermaande wat voorlê, en in ’n po­ging om waterverbruik in die munisipaliteit te be­kamp. Die Rau­benheimerdam, die bron van Oudts­­­- hoorn se water, het in September tot 48% gedaal voordat dit na reën gister op 62% gestaan het.

Droogtetariewe is ook goedgekeur wat slegs van toepassing sal raak indien die dam se vlak tot onder 50% sou daal.

So lyk waterbesparingsmaatreëls

Die waterbesparingsmaatreëls sluit ’n onmiddelike verbod in op die natlei van tuine, grasperke, parke en oop spasies vir langer as een uur per dag. Natleitye is slegs tussen 07:00 en 10:00 of tussen 18:00 en 19:00 daagliks. Kwekerye, groentetuine, sportstadions, gholfsetperke en krieket-kolfblaaie word vrygestel van die een uur-beperking maar niemand mag tussen 10:00 en 18:00 natlei nie.

Tuinslange mag nie meer gebruik word om voer­­tuie of toerusting te was of geplaveide, sement- of teeroppervlaktes af te spuit nie. Besig­hede wat afhanklik is van dié aksies is uitgesluit by dié beperking.
Water uit die boorgate van die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) mag slegs gebruik word as drinkwater vir mense en diere en vir huishoudelike doeleindes. Dié water mag nie gebruik word vir besproeiing, natlei of die was van voertuie, toerusting of oppervlaktes nie.

Swembaddens op Oudtshoorn sal eers op 1 November vir die publiek open. Die NA Smit Swembad sal in Oktober wel oopgestel word vir swem­­- galas wat reeds bespreek is.

Inwoners word voorts aangemoedig om sover moontlik gryswater te gebruik, terwyl inwoners met ondergrondse water ’n teken met die woord Boorgatwater op die perseel moet aanbring.

Droogtetariewe indien damvlak daal

Die droogtetariewe vir die Groter Oudtshoorn is goedgekeur nadat insette van die pu­bliek ontvang en aanpassings aangebring is. Voordat die tariewe inskop, sal inwoners eers daaroor ingelig word.

Volgens die raadsagenda vereis die Departement van Watersake dat munisipaliteite voorsiening in tariewe moet maak vir droogtesituasies, en dat tariewe aan sekere wetgewing moet voldoen.

Huishoudings in die munisipaliteit sal soos volg geraak word deur droogtetariewe:

Damvlak 40% – 50%: Die watertarief vir die eerste 15 kl water bly dieselfde. Vir water meer as 15 kl styg die tariewe met 10%.
Damvlak 30% – 40%: Die watertarief vir die eerste 6 kl water bly dieselfde. Vir water meer as 6 kl styg die tariewe met 30%.
Damvlak onder 30%: Die watertarief vir die eerste 6 kl water bly dieselfde. Vir water meer as 6 kl styg die tariewe met 75%.

• Vir meer inligting oor hoe droogtetariewe besighede, plase ens sal raak, kyk op diehoorn.com onder Wat jy nou moet weet.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?