Prins Albert-water weer ondrinkbaar

Deur Marlene Malan
PRINS ALBERT se water is vir die tweede keer vanjaar ondrinkbaar.
Die jongste situasie volg ná ’n vyf­dagstorm verlede week wat van Maandag tot Vrydag geduur het, met hewige donderslae en bliksemstrale Donderdagaand tussen 18:00 en 19:00.

Vir boere en inwoners van die dorp was dit ’n verligting in die droogtetyd, maar die water wat uit die Swartberge na onder stroom het, het terselfdertyd erge onsuiwerhede in die dorpsreservoirs veroorsaak. Kraanwater het ’n bruin kleur, en nadat dit ’n rukkie in ’n houer gestaan het, is die bodem bruin van stof en afsaksels.

Vroeër vanjaar, ná ’n storm en flits­vloed in April, het dieselfde gebeur.

Die munisipaliteit het die afgelope week inwoners gewaarsku om water vir drinkdoeleindes te kook. “Die water is troe­bel en ons vra dat u dit kook voor huishoudelike gebruik,” lui ’n waar­skuwing van die dorpsraad. Van die Prins Alberters wat dit nié gedoen het nie, kla van maagaandoenings.

Inwoners kla ook nou op WhatsApp-gespreksgroepe oor die dorp se watersituasie, sowel as die kragonderbreking wat die dorp oor die afgelope naweek byna drie dae lank lamgelê het.

“Die voortgesette situasie wat die bruin water betref, is belaglik,” sê ’n gastehuis­eienaar. Twee jaar gelede het die dorp ’n paar dae lank oor die Kerstyd geen watertoevoer gehad nie weens reservoirpro­bleme. Dit het veroorsaak dat toerisme ’n erge knou gekry het toe toeriste hul kuiertyd ingekort het.

• Oor die elektrisiteitsprobleme wat die dorp van verlede Donderdagaand tot Saterdagaand ondervind het, en daarna weer ure lank Maandagoggend, skryf ’n inwo­ner op ’n gespreksgroep: “Die jongste reeks kragonderbrekings dwing my om ’n vraagteken te plaas oor die stabiliteit van Prins Albert se elektrisiteitsverspreidingstelsel wat duidelik besig is om agteruit te gaan.

“Daar is altyd ’n argument oor volhou­bare opknappingswerk teenoor die koste van sulke kapitaalprojekte. Maar as die alternatief ’n katastrofiese ineenstor­ting is van die dorp se elektrisiteits­verspreidings­netwerk, is daar geen keuse nie as dat so ’n kapitaalkoste wel aangegaan moet word. Ons verkose dorpsraads­lede kan ons dalk vertel watter langer­- termynplanne in dié verband op die tafel is.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?