Pietersen skuldig bevind dat hy finanswet oortree

Noël Pietersen.        

Foto: Garnett Wicomb

Pietersen skuldig bevind dat hy finanswet oortree

’N Voormalige munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, Noël Pietersen, is gister in die Oudtshoorn Streekhof op vyf aanklagte van die oor­treding van die munisipale finansiële bestuurs­wet skuldig bevind.  Die saak is vir voorvonnisbetoë tot volgende jaar uitgestel.

Streeklanddros Marilyn Cannon van Kaapstad het bevind Pietersen het in 2010, nadat hy as munisipale bestuurder van Oudts­hoorn heraangestel is, sy posisie misbruik en ’n konsultasie­firma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself of/en ’n ander persoon, Ian Kenned, ’n voormalige munisipale bestuurder van Stellenbosch en eienaar van IBR.

Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned se konsultasiefirma oorbetaal.

Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar na te kom deurdat hy nie stappe gedoen het om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhinder nie, en  toe te sien dat die munisipale voorsieningsketting- en aankoopbeleid geïmplimenteer en op ’n regverdige, deursigtige, mededingende en kostedoeltreffende wyse  toegepas word.

Die landdros het in haar tweeuurlange uitspraak ’n breedvoerige oorsig gegee van hoedat Pietersen die betrokke wet oortree het.

Volgens haar het hy ook gefaal om behoorlike finansiële rekords as rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit by te hou.

“Die beskuldigde het die wet in eie hande geneem,” het die landdros aan die einde van haar uitspraak gesê.

Die saak is vir voorvonnisbetoë tot 31 Maart volgende jaar uitgestel.

Pietersen het ná die uitspraak aangedui dat hy beslis daarteen sal appelleer.

Adv Max Orban van die kantoor van openbare vervolging was die aanklaer. Adv Jerome van der Schyff het vir Pietersen verskyn.

 

(Deur Garnett Wicomb)

Log in with your credentials

Forgot your details?