Meld drankgebruik in parke aan, vra munisipaliteit

Drankbottels en rommel word gereeld in die parkie op die hoek van Buitekant- en Kortstraat gelos. Foto's: Liesel le Roux en Ockie Alberts

2 Parkie Buitekant2

2 Parkie

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het vandeesweek ’n beroep op inwoners gedoen om dadelik enige voorvalle van drankgebruik in munisipale parke by die munisipale beheerkamer aan te meld (044 203 7800). Die beheerkamer is 24 uur van die dag oop.

Dit volg nadat Die Hoorn klagtes van inwoners in die omgewing van die speelparkie op die hoek van Buitekant- en Kortstraat onder die munisipaliteit se aandag gebring het.

“Ingevolge munisipale regulasies mag niemand alkohol in ons parke gebruik nie,” sê Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder.

Inwoners kan ook ’n e-pos stuur aan melissa@oudtmun.gov.za om voorvalle aan te meld of ’n klag in te dien.

Volgens inwoners in die omgewing van die Buitekantstraat-parkie maak drankgebruik in die parkie en die rommel wat daar agtergelaat word, dit onmoontlik vir kinders om daar te speel.

Een van dié inwoners, Ockie Alberts, het al verskeie foto’s in die parkie geneem van drankbottels wat oral op die gras en onder bome rondlê nadat jongmense daar gekuier het. Ook met besoeke van Die Hoorn aan die parkie was drankbottels en ander rommel te sien. Dit wil ook voorkom of daar soms vuur onder een van die groot bome gemaak word.

Die vinger vir dié morsery word na studente van die SAPD Akademie daar naby gewys.

Volgens Alberts het hy al met verantwoordelike persone by die polisiekollege en die munisipaliteit oor die optrede van die studente probeer praat, maar gaan die gedrag steeds voort.

Charlene Terblanche wat oorkant die parkie bly, sê ook dit is studente van die kollege wat daarheen gaan om te drink. Sy skryf as volg op Die Hoorn se Facebook-bladsy: “Het al met van hulle gesels en hulle het vir my gesê hulle drink daar, want hulle mag nie drank by die kollege invat nie. Ek en ’n buurvrou het een Saterdag die bierbottels, whiskybottels ensovoorts gaan optel. Dit was ’n paar sakke vol!”

Terblanche sê dis gewoonlik groepe wat daar gaan drink en alles net so agterlaat.

Intussen wil dit voorkom of speelparkies elders in Oudtshoorn ook nie meer die tuiste is van kinders wat speel nie.

Henna Kuhn, wat naby die parkie in Corri­ganstraat woon, skryf op Die Hoorn se Facebook-bladsy: “Glo my, dit is nie die enigste parkie waar sulke dinge aangaan nie. Julle sal julle hande saamslaan oor wat ons al in die parkie gesien het, tot laat in die aand.”

Die Hoorn kon nie daarin slaag om reaksie van die SAPD Akademie te verkry nie.

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie, sê hoewel die munisipaliteit verantwoordelik is om die munisipale regulasies in so ’n parkie toe te pas, mag die polisie ook optree in die geval van openbare drankgebruik.

• Al Oudtshoorn se munisipale parke word weekliks deur die munisipaliteit skoongemaak. Indien parke tussen die skoonmaakdae bemors word, kan dit ook by die munisipale beheerkamer of e-posadres aangemeld word.

Log in with your credentials

Forgot your details?