Kerkstraat-swembad eindelik weer oop!

Alle swembaddens oop voor einde van week

Burgemeester Colan Sylvester (links), raadslid Hendrik Ruiters (middel) en Thomas Mathee, direkteur gemeenskapsdienste, kyk gister hoe Brandon Goliath en Mzamo Langbooi in die blou water van die Kerkstraat-swembad induik. Foto: Ilze-Mari Gründling

Burgemeester Colan Sylvester (links), raadslid Hendrik Ruiters (middel) en Thomas Mathee, direkteur gemeenskapsdienste, kyk gister hoe Brandon Goliath en Mzamo Langbooi in die blou water van die Kerkstraat-swembad induik. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
NADAT die munisipale swembad in Kerkstraat, Oudtshoorn vir drie jaar in onbruik was, is dit na herstelwerk gister weer vir die publiek oopgestel.

“Ons het hoofsaaklik aandag gegee aan die opknapping van die swembad. Die geboue is egter ook herstel,” het Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, gesê.

Volgens Thomas Mathee, direkteur gemeen­skaps­dienste, is die toestand van die swembad nog nie op die standaard wat die munisipaliteit dit sal wil hê nie, en sal verdere opgraderingswerk nog gedoen word.

“Dit is belangrik dat die swembaddens onderhou word. Dit is belangrik vir die gemeenskap dat wat nog stukkend is, herstel word.”

Die Kerkstraat-swembad het die afgelope paar jaar erg verval en is ook gereeld gevandaliseer. Volgens Matthee het die herstelwerk, insluitend nuwe toilette en herstel­werk aan die dak, minstens R300 000 beloop.

Volgens Aurelia Oliphant, munisipale woord­voer­der, is al die werk aan die swembaddens om hulle gereed te kry vir die somer, deur die amptenare self gedoen.

Volgens haar is die nodige herstelwerk nou ook by die NA Smit-swembad gedoen. “Die klein swembad is geseël en geverf en die kleedkamers het ’n nuwe voorkoms gekry. Betonblokke is vervang en buiteligte is aangebring.”

Oliphant sê al die swembaddens in die Groter Oudtshoorn behoort teen die einde van vandeesweek oop te wees vir die publiek..

Die tariewe van die munisipale swembaddens is R11 vir volwassenes en R3,50 vir studente en kinders onder 12 jaar.

Maandelikse tariewe beloop R140,80 vir volwassenes en R70,50 vir studente en kinders onder 12 jaar.

Seisoentariewe is R294,40 vir volwassenes en R147,30 vir kinders onder 12 jaar.

Spesiale tariewe geld vir skole en swemklubs wat afrigting in die swembaddens wil doen.

Gestremdes en spesiale staatskole kry gratis toegang tot die swembaddens.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?