Forensiese ondersoek wys onreëlmatighede van R15 milj

• Aanstelling van minstens vyf diensverskaffers aan Kannaland in die kollig

Deur Liesel le Roux
VERSKAFFERS wat aangestel is sonder dat die voorgeskrewe prosesse gevolg is, vrae oor die waarde van dié verskaffers se dienste, en moontlike onreëlmatige uitgawes van sowat R15 mil­joen.

Dit is van die bevindings van ’n forensiese ondersoek na bewerings van bedrog, korrupsie en finansiële wangedrag in die Kannaland Munisipaliteit.

’n Vorderingsverslag daaroor het Vrydag voor die Kannaland-raad gedien.
Volgens die ondersoek het dié aanstellings en betalings vir dienste tot moontlike onreëlmatige uitgawes van sowat R15 miljoen gelei.

Die forensiese ondersoek deur die Wes-Kaapse Regering se Forensiese Dienste-eenheid het in Ja­nuarie afgeskop nadat die burgemeester van Kannaland, Magdalena Barry, en die burgemeesterskomitee die Wes-Kaapse regering om bystand genader het.

Volgens Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, handel die aanvanklike ondersoek oor onder meer die beweerde onreëlmatige aanstelling van ten minste vyf diensverskaffers wat tussen 2011 en 2016 dienste aan die munisisipaliteit gelewer het.

“Die ondersoek het gevind dat die meeste van dié beweerde aanstellings onreëlmatig was deurdat afgewyk is van die normale kompeterende aan­stellingsproses en sonder om die vereiste voor­skrifte van die voorsieningsketting te volg,” sê Bredell.

“Dit het verder aan die lig gekom dat party van die dienste wat deur dié diensverskaffers gelewer is, bevraagteken kan word en nie waarde vir geld gebied het nie.”

Graham Paulse, hoof van die Departement van Plaaslike Regering in die Wes-Kaap, sê verskeie oortredings van die Munisipale Finansiële Be­stuurswet (MFMA), die Munisipale Voorsieningskettingregulasies (SCM Regulations) en die Voorsieningskettingbeleid deur vier munisipale amptenare is geïdentifiseer.

Van die amptenare is steeds in diens van die munisipaliteit.

Volgens Paulse dui die ondersoek op finansiële wangedrag en ander statutêre oortredings van die MFMA deur van die amptenare.

Tugoptrede teen amptenare steeds in diens van die munisipaliteit word aanbeveel asook dat moontlike kriminele oortredings by die polisie ge­rapporteer moet word vir verdere ondersoek.

Bredell sê die huidige intervensie in Kannaland is daarop gerig om die die finansiële herstel van die munisipaliteit te ondersteun.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?