Erfenis-opname kan nou afskop

Belangrike stap om erfenis te bewaar

Deur Liesel le Roux
’N OPNAME van al die erfenisgeboue, -huise en terreine binne die Groter Oudtshoorn en omliggende landelike gebiede sal in die nuwe boekjaar op Oudtshoorn afskop.

Dié opname sal alle erfenisstrukture aandui asook geskiedkundige plekke – soos die hangbrug en die Kango Grotte – in die Groter Oudts-hoorn.

Dit sluit ook byvoorbeeld ou huisies en ander strukture op plase in en ou kerke in Bridgton.
“Die opname is baie goeie nuus,” sê Hazel Gibson Jonker, voorsitter van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE).

Dit sal die eerste keer wees dat alle erfenisstrukture en plekke in die gebied amptelik gedokumenteer sal word.

Volgens Jonker is alle dorpe en stede in Suid-Afrika verplig om so ’n erfenisopname te doen, maar is dit nog in baie munisipaliteite uitstaande.

Jonker het die Oudtshoorn Munisipaliteit verlede Donderdag by die Algemene Jaarvergadering van HOE geloof vir dié inisiatief.

“Ons wil die raad bedank dat hulle geld in die begroting hiervoor bewillig het. Dit is werklik ’n groot deurbraak dat die munisipaliteit ­hierdie opname gaan doen.”

Die opname sal ook bepaal of daar sensitiewe erfenisgebiede in die munisipale gebied is, waar daar byvoorbeeld baie historiese geboue voorkom. Foto’s en ander inligting oor die struktuur of plek sal in die opname opgeneem word.

Volgens Jonker is daar reeds ’n kaart waarop erfenisstrukture en -plekke aangedui is en waarvandaan gewerk kan word. So ’n kaart sal in die toekoms deel uitmaak van die munisipaliteit se ruimte-ontwikkelingsraamwerk.

Sy sê dié opname is noodsaaklik omdat dit HOE sal help wanneer hulle ’n aansoek ontvang oor veranderings aan ’n erfenis-eiendom, aangesien al die inligting oor die eiendom dan reeds beskikbaar sal wees sodat ’n besluit daaroor geneem kan word.

Log in with your credentials

Forgot your details?