Wat en waar..?

Vat die pad met Arno Greyling

Vat die pad met Arno Greyling

Ek het nou onlangs afgekom op ’n baie goeie artikel op die webtuiste wheels24, wat vertel watter karre word waar vervaardig.

Die skrywer het tong in die kies geskryf dat die enigste kontinent wat nie motors vervaardig nie, Antartika is – tensy jy drywende ysblokke as ’n motor wil aansien! Streng gesproke vervaardig Suid-Afrika ook nie motors wat eie aan ons land is nie. Die fabrieke wat hier is, sit voertuie aan mekaar uit panele wat ingevoer word. Die uitdaging is dus om plaaslik vervaardigde inhoud te gebruik aangesien plaaslike inhoud ’n baie belangrike voorvereiste is vir die invoerbelasting toegewings wat die motorbedryf vanaf die regering ontvang.

Maar kom ons gaan kyk sommer vir interressantheid wat word waar vervaardig. Wat my die meeste verbaas het, is die feit dat Afrika ook kan spog met drie inheemse vervaardigers! Een daarvan is geleë in Nigerië wat ’n jaar of twee gelede ons geliefde land verbygesteek het wat die grootte van die ekonomie betref. Daar word die Innoson Motors Umu vervaardig, wat ’n familiegrote sedan is. In Morokko maak hulle die Laraki Epitome. ’n Gedroggie wat jou herinner aan Batman se wiele. En in Tunisië word ’n bakkie, die Wallys Iris gebou.

As ons na die ander kontinente loer, sien ons dat Suid-Afrika se gewildste ontwerpe vanaf Europa kom. Duitsland spog met vervaardigers soos Mercedes-Benz, Audi, BMW en Volkswagen. Frankryk het vir Renault, Bugatti en Peugeot. Die Italianers is bekend dat hulle die wêreld se bekoorlikste vuurwaens bou wat fabrikate soos Alfa Romeo, Ferrari, Fiat en Lamborghini insluit. Die Engelse het ook ’n stewige motorbedryf waar onder meer Range Rover, McLaren, Mini en Rolls Royce die lig sien.

In Noord Amerika word die alombekende Ford, Chevrolet, Jeep, Lincoln en Buick’s gebou.
Ook Tesla word daar vervaardig.

Tesla word tans beskou as die voorloper in die stryd om motors op die pad te sit wat alternatiewe energie gebruik en sonder bestuurders hul weg kan vind.

Brasilië spog met drie vervaardigers en as ons om die wêreld glip, kom ons uit by Indië en China waar bekende vervaardigers die voet in die deur probeer kry. In Indië is Tata seker die bekendste terwyl China spog met GWM en Geely.

Japan is die land wat seker die grootste impak het wat motors betref met Toyota, Mazda, Honda en Nissan – om maar ’n paar te noem. Die Koreane met Kia en Hyundai is besig om wêreldwyd sterk impak te maak – veral op die gebied van gehalte.

En die Aussies maak verskeie handelsmerke hoewel vervaardiging ook by hulle soos hier diep in die moeilikheid is weens die onmededingende koste van arbeid. Holden is die bekendste Aussie- handelsmerk.

Daar word beraam dat 165000 karre per dag in die wêreld vervaardig word. Byna ondenkbaar. ’n Reuse bydrae tot die wêreldekonomie. ’n Dinamiese nywerheid wat baie interressante wendings gaan neem in die volgende 10 jaar.
Tot ’n volgende keer…

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?