’n Man met passie vir motors!

Dié 1960 Volvo 544 Sport is een van die vier veteraanmotors wat Pieter Retief van Oudtshoorn nog besig.

Dié 1960 Volvo 544 Sport is een van die vier veteraanmotors wat Pieter Retief van Oudtshoorn nog besig.

Bo is Pieter Retief se 1965 Jaguar 420 G wat feitlik klaar gerestoureer is, regs sy International S100-bakkie wat hy so pas gekoop het, en onder sy 1940 Chev Special Deluxe.

Bo is Pieter Retief se 1965 Jaguar 420 G wat feitlik klaar gerestoureer is, heelonder sy International S100-bakkie wat hy so pas gekoop het, en onder sy 1940 Chev Special Deluxe.

8 Chev

8 International

Deur Schalk le Roux
PIETER RETIEF, bekende afgetrede sakeman van Oudtshoorn, het sy lewe lank ’n passie vir motors gehad.

Hy het sy eerste motor vir 10 pond (R20) gekoop toe hy 13 jaar oud was. Dit was ’n 1947 Austin 10 wat in ’n ongeluk was. Hoewel die bakwerk gebuig en onbruikbaar was, het die masjien niks makeer nie, vertel Retief, wat in die Paarl grootgeword het.

Twee jaar later, toe hy in st 8 was, het hy nog nog ’n Austin 10 vir 25 pond (R50) gekoop. Hy het toe uit die twee motors een opgebou.

“Toe ek in matriek was, was hy klaar en het ek my eie motor gehad wat ek ’n paar jaar gery het.”
Retief, wat hom 1967 op Oudtshoorn kom vestig het, vertel hy het oor die jare letterlik honderde motors gehad en dat hy ook omstreeks 1980 ou motors begin versamel het en dat hy in ’n stadium veertien op een slag gehad het.

Sy gunstelingmotor van al die veterane wat hy oor die jare gehad het, was ’n 1946 Plymouth (6 silinder side valve). “Dié kar het die lekkerste gery van al my motors. Ons het naweke gereeld plesierritte onderneem na George en Mosselbaai.”

Nog ’n gunsteling was ’n 1949 Ford V8 Coupe wat ’n 3,6 liter enjin gehad het. Dit was ’n baie mooi en haastige motor, sê hy.

Sy oulikste motor was ’n 1948 Fiat Topolino wat ’n 500cc-enjin en sitplek vir twee gehad het. Die motortjie het ’n kappie van opvoubare materiaal gehad wat kon terugtrek.

Oor die jare het Retief ou motors gekoop, dit oorgedoen en opgeknap, en van hulle weer verkoop.
Hy het ses jaar gelede ses van sy veterane verkoop. Hy het ook verlede jaar sy 1971 Cadillac Eldorado, sover bekend die enigste in Suid-Afrika, verkoop.

Oor sy jongste veteraan, wat hy so pas gekoop het, is hy baie opgewonde.

“Ek soek al ’n kwarteeu lank ’n 1956 International S100-bakkie wat baie skaars is. Daar was al baie te koop, maar ek kon nog nooit een kry wat oorspronklik en standaard was nie.

“’n Vriend, Kobus Halliday, van Groot Brak het onlangs een naweek by ons gekuier. Hy het ’n versameling van 110 gerestoureerde motors. Ek vertel hom toe dat ek ’n so ’n bakkie soek.

“En so werklikwaar sê hy hy het een. Hy het die bakkie in 2003 in Soweto gekoop en dit gerestoureer.

“Ek het sommer die Maandag na hom gery om te gaan kyk. Die bakkie was pragtig en gelukkig was hy bereid om dit aan my te verkoop.”

Volgens hom is daar nog so ’n paar goedjies wat hy aan die bakkie wil doen.
Hoekom ’n 1956 International S100?

“My pa het so ’n bakkie gehad, en ek het met hom groot geword. Ek het leer ry en gevry met hom. Die bakkie bring baie goeie herinneringe terug,” vertel hy.

Benewens die bakkie het Retief nog drie ander veterane oor: ’n 1943 Chev Special De Lux, ’n 1960 Volvo 544 Sport en ’n 1965 Jaguar 420 G.

“Die Jaguar het lank in ’n stoor gestaan en ek het hom onlangs eers uitgehaal en van vooraf gerestoureer. Hy is nou feitlik klaar gerestoureer en lyk pragtig.”

• Toe Retief in 1967 op Oudtshoorn kom woon het, het hy eers die Caves Motel bedryf. Hy het van 1978 tot 1986 die handelaarskap vir BMW, Alfa, Fiat en Leyland bedryf. Retief, ’n oud-raadslid, is die eienaar van Adley House-gastehuis wat hy jare lank self bedryf het. Sy dogter, Helene, bedryf Adley House nou.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?