Grootvoël Paradys-span van hier af na die WegRy Bull Run 2017

Christo Stander (links) en Johan Kriegler van Oudtshoorn wat van 5 tot 8 Oktober aan die WegRy Bull Run by Van Wyksvlei deelneem. Hier staan hulle by hul 1976 Ford Escort wat opgedollie is vir hul “Grootvoël Paradys”-tema.                              Foto: Ilze-Mari Gründling

Christo Stander (links) en Johan Kriegler van Oudtshoorn wat van 5 tot 8 Oktober aan die WegRy Bull Run by Van Wyksvlei deelneem. Hier staan hulle by hul 1976 Ford Escort wat opgedollie is vir hul “Grootvoël Paradys”-tema. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
TWEE ywerige Oudtshoorniete, Christo Stander en Johan Kriegler, gaan vanaf 5 tot 8 Oktober aan die WegRy Bull Run in Van Wyksvlei deelneem met hul 1976 Ford Escort – met die Grootvoël Paradys as hul tema!

Van Wyksvlei is ’n klein dorp in die Noord-Kaap tussen Prieska, Kenhardt, Brandvlei en Carnarvon, en die Bull Run vind jaarliks daar plaas.

Stander vertel dat dit nog altyd op sy Bucket List was om deel te neem.

“Ek het op Facebook geadverteer dat ek ’n ou kar soek – spesifiek vir hierdie geleentheid! Ek het geweldig baie ondersteuning gekry van die besighede op Oudtshoorn met altesaam 18 borge wat betrokke geraak het. Ek en my spanmaat is baie dankbaar daarvoor.”

Volgens Kriegler is hierdie spesifieke Ford Escort tans die enigste een in Oudtshoorn.
“Ons sien baie uit na die byeenkoms. Ons is die Grootvoël Paradys-span, so ons sal Oudtshoorn verteenwoordig.”

Die reëls van die byeenkoms sluit onder meer in:
• Motors mag net 1980- en ouer modelle wees.
• Die motors moet minder as R25 000 kos – insluitend alle uitgawes aan herstelwerk en registrasiefooie.
• Alle voertuie moet veiligheidsgordels vir alle insittendes hê.
• Vir ’n voertuig om deel te neem, moet dit self tot in Van Wyksvlei ry. Die ryery van die voertuie tot in

Van Wyksvlei is deel van die hele ervaring rondom die byeenkoms.

Die WegRy Bull Run is daarop gemik om een groot uitstappie vol pret te wees; hoewel kompetisies ook gehou sal word. Die toekenning van pryse sal vanjaar deur ’n gelukkige trekking gedoen word – behalwe vir die prys vir die algehele wenner.

Daar sal ook vanjaar ’n tentedorp wees sodat deelnemers slegs ’n slaapsak en ’n kussing hoef te bring.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?