Enige kleur … solank dit swart is!

Deur Arno Greyling

Deur Arno Greyling

VAN die heel begin af was kleurkeuse in die motorbedryf net so belangrik soos jou keuse van fa­brikaat.

Henry Ford se nou reeds baie bekende woorde – “Enige kleur … solank dit swart is” – beklemtoon dit. (Hoewel hy die keuse namens sy kliënte gemaak het!)

Stadigaan het dinge verander van ’n beperkte keuse tot vandag toe waar die verbruiker ’n baie wye keuse van kleure het. In my loopbaan in die bedryf was dit nog altyd baie interessant om die proses dop te hou wanneer daar oor kleur besluit word.

Meestal het jy te doen met twee soorte kopers.

Die een soort koper wil hom- of haarself op ’n manier met die kleur van die motor wat gekoop word, uitdruk.
Hulle spandeer baie tyd met die kleurkaarte en in die modern era is daar opsies op die webwerwe waar jy die spesifieke kar wat jy as koper oorweeg, in die spesifieke kleur kan sien.

Gewoonlik is daar dan ’n wagtydperk vir die motor aangesien vervaardigers verskillende kleure in groepe vervaardig.
Die ander soort koper in Suid-Afrika is die praktiese koper waarvan die koopoorweging nie emosioneel is nie, maar hoofsaaklik rasioneel.

Daar word geloer na die wye spektrum van kleure en dikwels word opmerkings soos “my Oupa het ’n pragtige rooi Pontiac gehad” gehoor. Net om onmiddelik te noem dat dit ’n baie onpraktiese kleur is wat moeilik is om skoon te maak, maklik in die son verbleik of moeilik reggemaak word as daar ’n ongelukkie gebeur. En dan is hul maar weer terug op wit en silwer…

’n Onlangse studie het getoon dat Suid-Afrikaners nog baie konserwatief in hul kleurkeuses is. En dit word gedryf deur die verhuringsmaatskappye wat as groepering die grootste koper van motors in die land is.

Met 60% oorheers wit geheel en al, gevolg deur silwer op 19%. Grys op 9%, rooi op 6% en blou op 4% maak die res van die noemenswaardige keuses uit.

Dit is ook so dat ons ons oorwegend warm en sonnige weer in Suid-Afrika ook ’n rol speel as dit kom by ligte kleure teenoor donker kleure, met ligte kleure wat minder hitte absorbeer as die donker kleure.

Ondervinding het my ook geleer dat ’n potensiële koper ’n wit of silwer voertuig sal koop, al het hy dit net in ’n ander kleur gesien. Maar as die keuse ’n kleur soos blou of rooi of enige ander kleur is, wil hulle die motor in daardie spesifieke kleur sien.

Die tendens is verder dat handelaars in gebruikte voertuie ook geneig is om ’n wit of silwer kleur makliker te verkoop as ander kleure.

Ek onthou in die middel negentigerjare het geel motors die Europese mark soos ’n storm getref. Handelaars in Suid-Afrika is deur vervaardigers aangemoedig om geel te bestel aangesien die “mode” ook hier verwag is. Die uiteinde was byna katastrofies vir party vervaardigers en hul werknemers het lank met geel motors rondgery wat die handelaars nie wou koop nie.

Hoe dit ook al sy – jou keuse van kleur sê tog iets van jou as koper. En soos dit blyk uit navorsing bly die gemiddelde Suid-Afrikaanse koper maar uiters versigtig en konserwatief as dit kom by sy/haar keuses van kleur.

Tot ’n volgende keer… Groetnis.

‘ ’n Onlangse studie het getoon dat  Suid-Afrikaners nog baie konserwatief  in hul kleurkeuses is.’

‘ ’n Onlangse studie het getoon dat Suid-Afrikaners nog baie konserwatief in hul kleurkeuses is.’

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?