Die kiekie wat jy nie graag in jou album sit nie

Deur Arno Greyling

Deur Arno Greyling

Ek ry so ’n paar maande gelede vanaf Bloemfontein terug Oudtshoorn toe. Net buite Colesberg merk ek ’n baie komiese prentjie op. Voor ’n boom is die welbekende spoedkamera van Colesberg opgestel en agter die boom (in die skaduwee na­tuurlik) is die bewaker van die kamera besig om ’n heerlike middagslapie te geniet.

Kyk … as ’n man moeg is, is jy moeg!

My eerste gedagte was dat dit nogal nie sleg sal wees om ’n werk te hê wat kan aangaan terwyl ek slaap nie. Dié tipe joppies is egter maar aan die skaars kant.

En verder het ek gewonder hoe weet ek en jy as motoriste wanneer die kameras wettig is om spoed te moniteer.

Want óf ons gooi daai kaartjie weg en stel onsself bloot aan vervolging in die ongemaklikste tyd denkbaar, óf ons betaal maar. Want wie sien nou kans om elke dan en wan terug te ry om ’n spoedkaartjie in die hof te gaan beveg ?

Erger nog is die kaartjies wat jy per pos ontvang met daardie kiekies wat tog deel is van jou vakansieherinneringe … maar definitief nie van die wat aangenaam is nie.

Ek kon die volgende riglyne vir die tipe kameras opspoor.

Vir so ’n boete moet die foto ten minste die volgende inligting bevat :
• Datum en tyd van misdryf;
• Spoed gemeet;
• Waar sensorlyne lê sowel as die aansig van die hele breedte van die verkeersbaan wat deur die sensorlyne bedek word;
• Die liggingskode;
• Twee foto’s wat die posisie van die voertuig aandui met ’n duidelike beeld van nommerplaat;
• Daar mag geen obstruksie teenwoordig wees nie.

Die boete moet ook binne 30 dae gegenereer word en aan die oortreder gestuur wees – ingevolge Artikel 341 van die Strafproseswet.

Vir diegene wat wel kans sien om die hofproses deur te gaan, kan bogenoemde van hulp wees.
Groetnis tot ’n volgende keer…

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?