Akronieme … en hul betekenis!

Deur Arno Greyling

Deur Arno Greyling

Ek het net verbaas opgekyk toe my meisiekind twee jaar gelede by my wou weet wat presies ’n akroniem is.
Google het die volgende te sê gehad : ’n Akroniem is ’n selfstandige woord wat gevorm word deur die samevoeging van die beginletters of vernaamste letters van ’n aantal woorde.

Die wêreld van motors is besaai daarmee. AMG, GTi, TSi, VVTi – om net ’n paar te noem.

Dit raak deel van ons spreektaal, maar al ooit gewonder waarvoor dit staan?
Ek het gaan ondersoek instel en op die volgende afgekom:

• AMG: Dit is ’n afkorting wat in die Mercedes-kringe gebruik word vir hul hoëverrigting- en wedren­aangepaste enjins.
Die afkorting word opgemaak met die eerste letters van die ingenieurs wat dié afdeling van Mercedes tot stand gebring het, naamlik mnre Alfred en Melcher in die dorp Grossalpach in Duitsland. Vandaar ook die gebruik van die letter “G” in die akroniem.

• CDi: Ook ’n afkorting wat net op die agterkant van ’n Mercedes te siene sal wees. Dit staan vir “Common rail direct injection” en verwys na die tipe brandstof wat gebruik word asook die manier waarop die brandstof in die stelsel toegedien word.

• GTi: Sekerlik een van die bekendste afkor­tings in die bedryf – en met reg ook so. Volks­wagen het daarvan ’n legende gemaak wat in die proses ook volkstaal geword het.
Dit is ’n akroniem wat afgelei is van die woorde “Grand Touring Injection”. Dit is vir die eerste keer in 1975 by die Frankfurt Motorskou gebruik waar Volkswagen die enigste direkte brandstofinspuiting-motor (die Golf GT) uitgestal het. Om dit te onderskei van die vergassermodelle én natuurlik te spog, is die “i” bygevoeg.

• HSE: Hierdie een is vir die Land Rover-lief­hebbers onder ons. Dit staan vir “High specification equipment” en word aangewend om hul hoogste spesifikasie-modelle uit te ken.

• M: Soos in die geval van Mercedes het BMW ook ’n afkorting om hul “wilde kant” uit te ken. Dit is eenvoudig die letter “M” .
M3, M5, ens het al baie bekende afkortings in die motorgeesdriftige se woordeskat geword.
Die hoëverrigting-afdeling van BMW het in 1972 tot stand gekom met die eerste van die “M”- modelle, die M1 (ja, u het reg gelees) wat in 1978 sy verskyning maak.

• TDi: Die afkorting staan vir “Turbo charged direct injection” wat deur die Volkswagen-vervaardigers gebruik word.
Ná die skandaal betreffende die uitlaatgasse waarin Volkswagen ’n rukkie gelede betrokke was, het die afkorting ’n bietjie van ’n wrang smaak in die mond van die Europeërs en Amerikaners gelaat, want dit was juis by hierdie modelle waar die ongerymdhede plaasgevind het.

• VVTi: Dit is ’n afkorting wat bekend sal wees aan die Toyota-manne. Die staan vir “Variable valve timing with intelligence” – voorwaar ’n mondvol.

Om die ware betekenis daarvan te verstaan, verg ’n bespreking op sy eie wat buite die konteks van hierdie rubriek val, maar dis dalk interessant om daarop te let dat die tegnologie nie meer uniek aan Toyota is nie en die “spogwaarde” daarvan eintlik al verval het.

Tot ’n volgende keer…

Groetnis.

Log in with your credentials

Forgot your details?