Vrou vroegoggend met mes oorval

• Beroof tussen bushalte en huis

Deur Ilze-Mari Gründling
’N 39-JARIGE vrou van Oudts­hoorn is Dinsdagoggend omstreeks 06:40 naby die Bongolethu-swembad beroof pas nadat sy haar twee seuns na die skoolbus geneem het.

Desiree Ruiters vertel dat sy op pad was huis toe vanaf die bushalte toe sy deur twee mans gewapen met ’n mes oorval is.

“Ek woon sowat 500 meter vanaf die bushalte. Dit is ook nie ver van die Bongolethu Polisiekantoor af nie.

“Ek het net my seuns by die bushalte afgesien en begin te­rugstap. Net toe ek verby die bult kom, het twee mans my van agter af gegryp. Een het ’n mes teen my keel gehou en vir my gesê om alles wat ek het, vir hulle te gee. Ek het nog my kamerjas aangehad.”

Sy sê sy het slegs 10 Rothmans-sigarette, ’n R20-noot en haar sleutels by haar gehad.
“Gelukkig het my kinders dit nie gesien nie.

“ ’n Ouer paartjie het ge­sien wat gebeur en geskree. Ek het nie terugbaklei nie. Ek het my sleutels op die grond gegooi sodat hulle vanaf my kon wegbeweeg en sodat ek kon weghardloop.”

Die vrou moes een van haar vensters breek sodat sy weer in haar huis kon kom.

“Dit wat hulle gesteel het, is nie veel nie, maar ek voel ontneem van my vryheid.

“Ek is nou te bang om uit my huis te gaan.

“Ek weet nie wat wag vir my wanneer ek weer met my kinders moet bushalte toe stap nie. Ek is ’n enkelma en woon alleen.”

Sy vertel dat sy by die polisiekantoor was om ’n verklaring af te lê, maar dat die polisie “nie behulpsaam” was nie en nie ’n amptelike verklaring wou afneem nie.

Die Hoorn het ’n navraag hieroor aan die Oudtshoorn Polisie gestuur.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?