Saak wag al byna twee jaar vir bloeduitslae

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE saak teen ’n senior munisipale amptenaar wat in Mei 2016 vir dronk­bestuur in hegtenis geneem is, draal steeds omdat die uitslag van bloedtoetse nog nie terug ontvang is van die forensiese laboratorium nie.

Die amptenaar, wie se naam teruggehou word omdat hy nog nie gepleit het nie, het op 16 Mei 2016 teen die voertuig van ’n swanger vrou met sy wit Volkswagen Passat in Albertstraat gebots.

Shanél Thysse, wat op daardie stadium 33 weke swanger was, en haar sewejarige seun was in ’n wit GWM H5 toe die voorval plaasgevind het.

Niemand is in die botsing beseer nie.

Die amptenaar het kort na die voorval in die hof verskyn.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, kon ’n volgende hofdatum egter nog nie vasgestel word nie omdat steeds – na amper twee jaar – gewag word op bloedtoets-uitslae.

Dit is bekend dat daar al jare lank ’n groot agterstand by forensiese laborato­riums in Suid-Afrika bestaan ten opsigte van die toetsing van bloedmonsters, wat die vervolging van dronkbestuur-sake dwarsoor Suid-Afrika belemmer.

Log in with your credentials

Forgot your details?