Roof, jaagtog en skote klap

• Rooftogte skud Klein Karoo

Deur Liesel le Roux
’N GEWAPENDE rooftog Vrydagmiddag op die rustige Klein Karoodorpie Vanwyksdorp en ’n jaagtog waartydens die skote geklap het, het die afgelope week skokgolwe deur die Klein Karoo gestuur.

Twee mans wat na bewering betrokke was by die rooftog by die Twaksak Supermark in Vanwyksdorp is dood toe een van die voertuie waarmee hulle gevlug het, omgeslaan het.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Suid-Kaap, het drie mans – twee van hulle gewapen – Vrydagmiddag omstreeks 16:00 die supermark binnegestap en almal binne die winkel beveel om op die grond te lê.

Die mense is hierop met kabelbinders vasgebind terwyl hulle ’n vrou wat in beheer was in die winkel gedwing het om die kluis oop te sluit.

Die rowers het ’n groot bedrag geld asook waardevolle items soos ’n selfoon en skootrekenaar uit die kluis gebuit.

Hulle het ook die vrou se voertuigsleutels ge­steel en met haar Ford Ranger-bakkie van die toneel gevlug, gevolg deur ’n Hyundai-minibus.

Pojie sê die Huyndai was vermoedelik die voertuig waarmee hulle van die toneel wou wegvlug.
Die Ladismith Polisie het egter nie op hulle laat wag nie en die voertuie agternagesit terwyl hulle ook die polisie van Laingsburg, waarheen die voer­tuie op pad was, se hulp ingeroep het.

Die Laingsburg Polisie het die voertuie voorgekeer, maar toe die verdagtes uit die bakkie klim, het hulle op die polisie begin skiet en in die minibus gespring en daarmee weggejaag.

Die polisie het teruggeskiet en in die geweer­vuur het die Hyundai-minibus omgeslaan.

Twee verdagtes het op die toneel gesterf terwyl twee ander in hegtenis geneem is en onder polisiebewaking in die Allan Blythe Hospitaal in Ladismith behandel is.

Die mans, onderskeidelik 27 en 30 jaar oud, is na die Oudtshoorn Hospitaal oorgeplaas en was ook hier onder polisiebewaking.

Volgens Pojie ondersoek die polisie sake van besigheidsroof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en poging tot moord.

Die mans sal binnekort in die hof verskyn.
• Dit was egter nie die enigste gewapende rooftog in die Vanwyksdorp-omgewing die afgelope tyd nie.
Verlede Vrydag se rooftog volg op die hakke van ’n rooftog helder oordag op 30 Mei op die plaas Wolwekop, ook in die Vanwyksdorp-omge­wing.

Volgens a/o Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, is Rod Green (82) en sy vrou Jane omstreeks 13:30 die dag deur drie onbekende swart mans oorval en beroof.

“Na bewering het die mans die eienaar van die plaas vir water gevra. Hulle het hom tot binne sy huis gevolg waar een ’n vuurwapen te voorskyn gebring en hulle toe die egpaar vasgebind het. Die mans het kontant geëis.”

Cederas sê die mans het R700 kontant en sowat R29 600 se elektriese ware gevat.
Onder die gesteelde goedere was na verneem word selfone, ’n skootrekenaar en ’n kamera.
Die egpaar is na verneem word nie ernstig beseer nie.

Cederas sê die Ladismith Polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

Genl Bart Vosloo van Oudtshoorn wat ook ’n plaas in die Vanwyksdorp-omgewing besit, sê telefoonkabels is sowat 14 dae voor die aanval in die omgewing gesteel en dat die Greens en buurplase nie telefoonverbinding gehad nie.

Vanwyksdorp is sowat 46 km van Ladismith in die Klein Karoo geleë.

Is daar enige verband tussen ’n rooftog die afgelope naweek in Vanwyksdorp en
’n rooftog op ’n plaas daarnaby einde Mei?

Dit is die vraag wat talle inwoners van die Klein Karoo vandeesweek gevra het.
Gewapende rooftogte soos hierdie is skaars in dié landstreek wat deur sy
inwoners as van die veiligste in die land beskou word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?