Polisiebeampte se lewe waarskynlik gered deur vinnige mediese behandeling

Landdroshof-Oudtshoorn

’N POLISIEBEAMPTE van Oudtshoorn wat deur drie mans in Baron van Reedestraat aangerand is, se lewe is waarskynlik danksy vinnige mediese behandeling gered.

Dit blyk uit die getuienis van dr Wessel Vermeulen, ’n plaaslike geneesheer, verlede Woensdag in die verhoor van twee mans van Gauteng wat tereg staan op aanklagte van poging tot moord op Heinrich Strydom, die polisiebeampte.

Vermeulen, wat Stydom na die voorval behandel het, het getuig oor die ernstige beserings wat hy die aand van 21 November 2009 opgedoen het toe hy na bewering deur drie mans wat van ’n kuierplek in die middedorp gekom het, in Baron van Reedestraat aangerand is.

Vincent Khoza van Soweto en Sazi Dludla van Heidelberg, Gauteng, word daarvan aangekla dat hulle saam met nog ’n verdagte, Luhuvani Tshamango, ook van Gauteng, vir Strydom geskop en geslaan het. Tshamango kon nog nie opgespoor word nie.

Volgens Vermeulen het Strydom lewensgevaarlike kopbeserings opgedoen en is sy lewe moontlik danksy vinnige mediese behandeling gered.

Hy was deurmekaar en sy klere en gesig vol bloed. Bloed het ook by sy ore uitgeloop en sy lippe was geswel.

Volgens die dokter is die beserings deur ’n stomp voorwerp toegedien soos ’n skoen, ’n klip, knieë of vuishoue.

Hy het dadelik gereël dat Strydom na ’n hospitaal op George oorgeplaas word vir ’n breinskandering omdat die nodige fasiliteite nie op Oudtshoorn beskikbaar is nie.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof versoek om die saak “in belang van die beskuldigdes” uit te stel om behoorlik vir die betoog voor te berei.

Streeklanddros JH Breyl het die versoek toegestaan en dat die betoë skriftelik teen 3 Augustus aan hom voorsien word. Hy het die saak tot 10 Augustus 2017 uitgestel. (Berig deur Garnett Wicomb)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?