Oppas vir internet-bedrog, sê polisie

DIE Oudtshoorn Polisie het inwoners gemaan om bewus te wees van die gevare van internetbedrog.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n gastehuis uit R20 000 bedrieg nadat hulle ’n e-pos ontvang het van ’n bank. Volgens die e-pos is daar ’n betaling wat die eienaar moet finaliseer deur op ’n skakel te kliek en in te teken. In die proses bekom die skelms die pinnommer en so is R20 000 vanuit die rekening oorbetaal.

“Hierdie e-posse lyk op die oog af net soos die bank se e-posse, asook die intekenskerms. Dit is egter vals en sodoende verskaf jy jou inteken-besonderhede en ook jou pinnommers. Mense word gewaarsku om versigtig te wees en om vertroud te wees met wat hulle bank se prosedures is.”

Visser waarsku dat as banktransaksies gedoen word, dit nooit vanaf skakels op die internet gedoen moet word nie.

“Teken in op jou bank se webtuiste soos wat jy normaalweg doen.”
As jy so ’n e-pos ontvang, sal die naam van die afsender ABSA, Standard Bank of Capitec Bank wees.

“ As jy egter op die naam kliek, sal jy sien die e-posadres is byvoorbeeld ABSA@gmail.com of capitec@ yahoo.com. Dit moet onmiddelik die gevaarligte laat flikker, aangesien die banke se e-posadresse gewoonlik eindig met die bank se naam, soos ghijk@absa.co.za of abcde@ standardbank.co.za. Wees bewus van die verskille en maak seker jy weet hoe jou bank se e-posadres lyk.”
Visser sê bedrog vind op verskillende maniere plaas en nuwe metodes om bedrog te pleeg kom daagliks voor.

Dikwels doen skelms ’n SIM-kaart-ruiling of “SIM swop” om toegang tot mense se selfone te bekom – ook om internetoorbetalings met sel­foonbankdienste te maak.
“Wees bedag. As jy twyfel, vra jou bank voordat jy voortgaan.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?