Kommer oor meer inbrake by huise

• Polisie gee wenke om jou blyplek te beveilig

DIE Polisie op Oudtshoorn is bekommerd oor die toename in inbrake by wonings.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is daar veral sedert die tweede week van Junie ’n toename in inbrake en kom die meeste inbrake in Bridgton en Bongolethu voor.

“Die meeste voorvalle vind in die nag plaas,” sê hy.
Die diewe steel alles wat vir hulle waardevol lyk, asook toestelle soos TV’s, rekenaars en sel­fone en ook kruideniersware, klerasie en skoene.

Visser sê dit is kommerwekkend om te sien hoe maklik daar toegang tot huise verkry word.
In sowat 50 persent van die gevalle het die diewe by die huise se buitedeure ingekom.
Die polisie het inwoners gevra om die volgende wenke te volg en so die polisie te help om huisbrake te voorkom:

• Moenie jou huis se vensters oop los as jy uitgaan nie, en maak seker al die vensters is behoorlik op knip.
• Diefwering en alarms is die grootste afskrikmiddel vir inbrekers en sal die risiko van ’n inbraak verminder.
• Huisbrake vind nie net in die nag plaas nie. Sorg dat vensters ook bedags toegemaak en deure gesluit is, al is jy by die huis.
• Moenie waardevolle items naby vensters los nie.
• Wees op die uitkyk vir vreemde persone in die omgewing en rapporteer dit aan die polisie.
• Goeie vriendskappe kan huisbrake verhoed. Sê vir ’n goeie vriend of buurman as jy weggaan of nie die nag by die huis is nie.
• Maak seker niks soos bakstene, ysters of gereedskap wat die inbreker kan gebruik om by jou huis mee in te breek, lê iewers buite die huis rond nie.
• Maak seker die diefwering en veilig­heidshekke is sterk genoeg en die gapings klein genoeg dat iemand nie daardeur kan klim nie.

Die Polisie het ook ’n beroep op inwoners gedoen om seker te maak hulle koop nie gesteelde eiendom nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?