Kitsbankdiefstal kan só voorkom word

Kitsbank gratis clip

Wenke van polisie en banke oor veilige gebruik van kitsbanke

HOEWEL bedrog of diefstal by kitsbanke ook op Oudtshoorn gereeld voorkom, kan dit voorkom word, sê kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie.

Volgens Visser was kitsbankbedrog een van die belangrikste besprekingspunte tydens ’n onlangse vergadering van banke op Oudtshoorn en die SAPD.

“Die meeste van die voorvalle kan voorkom word.”

Hy sê hoewel veral ouer mense geteiken word, kan enigeen ’n slagoffer word.

Hy het die volgende wenke vir kitsbankgebruikers gegee:
Wees op die volgende bedag by ’n kitsbank:
• Misdadigers nader gebruikers by kitsbanke om hulp aan te bied. Hy/sy sal dan die gebruiker se bankkaart omruil met ’n soortgelyke een sonder dat die gebruiker dit agterkom.

• As jy vermoed daar is fout met die kitsbank, kanselleer die transaksie onmiddellik.

• Wees versigtig vir vreemdelinge wat jou hulp aanbied. Hulle probeer dalk jou aandag aflei om sodoende jou kaart en/of pinnommer te kry. Hulle werk gewoonlik in groepe van twee of meer.

• Probeer altyd die sleutelbord te verberg as jy jou pinnommer insleutel.

• Volg die instruksies van die kitsbank noukeurig.

• Tik jou pinnommer slegs in wanneer die kitsbank daarvoor vra. As iemand jou wil help en sê jy moet jou pinnommer intik, moenie. Hy/sy wil waarskynlik jou pinnommer sien.

• Indien jy tydens die transaksie gepla word deur ’n ander persoon, verander jou pinnommer onmiddellik of stop jou bankkaart.

• Moet niemand om hulp nader nie, selfs nie die sekerheidswagte nie. Gaan liewers direk bank toe.

• Moet nooit jou bankkaart in die gleuf inforseer nie. Dit gaan maklik in of daar is fout.

• Kanselleer jou kaart onmiddellik as dit nie uitkom nadat jy ’n transaksie gekanselleer het nie. Daar is kontaknommers op elke kitsbank. Moenie wag nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?