Gordon April skuldig

Gordon April as burgemees­ter.

Gordon April as burgemees­ter.

• Uitspraak in jarelange sand-en-klipsaak 

Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisoplegging van die voormalige burgemeester van Oudtshoorn, Gordon April, en Raymond Wagenaar, assistent- superintendent stormwater en strate by die munisipaliteit, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof tot 5 Mei uitgestel nadat die verdediging vir ’n korrektiewe toesigverslag gevra het.

April en Wagenaar is die vo­ri­ge dag op vyf klagtes van diefstal van sand en klip en die on­wettige gebruik van ’n munisipale voertuig skuldig bevind terwyl April ook skuldig bevind is aan intimidasie en poging tot regs­verydeling.

Die staatsaanklaer, Tommy Ver­reyne, het die hof versoek om die twee op grond van hul eie getuienis skuldig te bevind. Albei het erken dat die sand en klip munisipale eiendom was en dit verkeerd is om dit sonder toe­stemming vir persoonlike doel­eindes te gebruik.

April en Wagenaar se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het vir hul vryspraak op al die klag­tes gevra omdat die staat nie daarin geslaag het om hul skuld te bewys nie. Die sand en klip is vir die herstel van die sypaadjie gebruik, die plig van die munisipaliteit, het hy gesê.

Streeklanddros Mark van Wyn­gaardt het in sy uitspraak ge­sê April het sy posisie as bur­gemeester misbruik en daarmee Wagenaar ook in die moeilikheid laat beland.

April het volgens die landdros ’n klomp leuens vertel terwyl die trekkerbestuurder wat die sand en klip na sy huis gebring het, Aubrey Rala, ’n eerlike man is.

Hoewel hy ’n enkelgetuie was, het hy nie afgewyk van sy getui­enis nie, terwyl April alles gedoen om hom te oorreed om niks te sê nie.

Die saak is Maandag tot Dinsdag uitgestel nadat April se vo­rige veroordelings van onder meer aanranding om ernstig te beseer, bedrog, verkoop van drank sonder ’n lisensie, dronk­bestuur en aanranding gewoon aan hom voorgelees en hy be­swaar aangeteken het omdat die skuldigbevinding ten opsigte van bedrog na ’n suksesvolle appél in 2011 ter syde gestel is.

Hy het na die hofverrigtinge gesê dat hy beslis teen die skuldigbevinding sal appelleer.
• ’n Voormalige direkteur ge­meenskapsdienste van die munisipaliteit, Walter Hendricks, het onder kruisverhoor getuig dat hy nie self die saak destyds ondersoek het nie, maar dit aan die waarnemende munisipale bestuurder, Mpo Mogale, gerapporteer het. Mogale wat gedagvaar is om te getuig, is nie deur die staat geroep nie.

Die voorsitter van AfriForum Oudtshoorn, George Kersop, het ook voorheen getuig dat hy die saak by die handelmisdaadeenheid van die Polisie ingedien het nadat Hendricks en nog ’n munisipale amptenaar, Harold Lekay, hom by sy kantoor daar­oor kom inlig het.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?