Redakteursbrief: Maak seker jy is ingelig

Deur: Liesel le Roux

Deur: Liesel le Roux

Eilande was altyd pretplekke. Veilig vir diegene wat wil wegkom en vrede ervaar, maar tog opwindend genoeg vir diegene met avontuurlus.

Een van die besonderse eienskappe van ’n eiland is die afgesonderdheid omdat die landsgrense omsoom word deur ’n reuse-oseaan. Daarom is inwoners gewoonlik ontspanne met die mantra: “Môre is nog ’n dag.”

Op die nuwe eilande van die 21ste eeu is niemand egter meer ontspanne nie. Ons is besig op ons eilande en al is ons dikwels onkundig oor wat in die ware wêreld daarbuite gebeur, laat waai ons steeds met ons mening. Ek praat nou van die eiland Faceboek en ander sosiale media-eilande en selfs What­s­app-geselsgroepe.

Hier word jy dikwels, in ’n see van onkunde en afgesluit van die wêreld daarbuite, gevoer met bewe­ringe en inligting van onbetroubare bronne op grond waarvan jy jou menings vorm en reageer. Soms word jy saam met ander op dié eilande kwaad en skryf jy dinge neer wat die hele wêreld kan lees, al dink jy jy woon net met jou vriende op eiland Facebook.

Dié dinge is nie net soms pynlik privaat nie, maar dit sluit ook in haatspraak, aanmoediging tot moord en doodslag en ander dinge wat strafbaar met die wet is.

Op eiland Facebook dink party mense Oudtshoorn is ’n gevaarlike dorp. Hulle kom dalk nie veel buite die grense van dié rustige dorpie nie.

Op eiland Facebook dink mense dit is aanvaarbaar om dinge soos “Maak hom vrek” en “Skiet hom dood” te skryf – aanmoediging tot moord.

Op eiland Facebook skryf baie van die inwoners eers en dink daarna.
Vir ons almal wat op dié eiland woon of soms kuier, bly dit belangrik om by feite te hou. (Lees gerus ge-loofwaardige koerante, dit help baie.) Wees skepties, moenie almal glo nie.

En moenie skryf as jy kwaad is nie. Dit help ook. En dit maak die eiland lekkerder vir ander om te bewoon.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?