Hoekom woon jy hier?

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Die gesprek met Jaco Vorster op bladsy 3 van vandeesweek se uitga­we van Die Hoorn het sy ontstaan gehad by ’n vergadering op Donder­dagmiddag 25 Januarie by die Turnberry Boutique Hotel op Oudts­hoorn.

Dié vergadering – ’n beplanningsvergadering waarheen lede van die Oudtshoorn Besig­heidskamer ge­nooi is – was onder meer ’n gesprek tussen die bestuur en lede oor maniere waarop besigheid in Oudts­hoorn gestimuleer kan word en knel­punte wat groei op die dorp strem uit die weg geruim kan word.

Die bestuur het lede ook ingelig oor verskillende projekte wat tydens strategiese beplanningsessies geïdentifiseer is en lede genooi om betrokke te raak en so ’n verskil op die dorp te maak.

Een van die projekte is byvoorbeeld hoe nuwe beleggings na Oudts­-hoorn gebring kan word en ook om die besigheidsektor te ontwikkel.

Turnberry se saal was vol en dit was duidelik dat die besigheidsmense wat die middag daar was, passievol oor hulle dorp is.
Daar was duidelik dinge in Oudts­hoorn waarop sy inwoners trots is, maar ook dinge in Oudts­hoorn waarvoor inwoners hulle skaam en wat hulle kwaad of moedeloos maak.

Tussen al die sprekers die middag het Jaco Vorster in ’n stadium daarna verwys hoe hy jare gelede gekies het om in dié plattelandse dorp in die Klein Karoo te kom woon en nie in New York of in enige van die ander van die derduisende dorpe en stede in die res van die wêreld nie.

Dit het my nuuskierig gemaak, en ek het ook aanklank by sy woorde gevind.

Op daardie oomblik het ek besluit ek wil graag vanjaar stories skryf waarin mense vir ons vertel waarom hulle gekies het om hier – en nie el­-ders nie – te woon (en werk). Want soos Jaco Vorster sê: Dit is ’n keuse.

Ons wil weet weet wat mense raaksien op Oudtshoorn en om watter redes hulle dié dorp gekies het om te woon en te werk.
Ons sien uit na die reis waarop hier­die stories ons gaan neem, en wil lesers nooi om ons te vertel van inwoners met wie ons kan gesels. Daar is reeds ’n hele aantal name en ons sal graag nog by ons lys wil voeg. ­­
– Liesel le Roux

Log in with your credentials

Forgot your details?