Briewe / Letters

My hart is baie seer

Onthou julle nog die dae toe ek die Kaapse Filharmoniese Orkes na Oudts­hoorn gebring het; later met die hulp van Klein Karoo Klassique?

Onthou jy die goue ou dae?

Baie van ons het voor die uitvoering ’n glasie wyn by die Queen’s Hotel gedrink en daarna met ons metgeselle die uitvoering bygewoon.

Dit het almal “grand” laat voel.

Die Burgersentrum was destyds ook maar – soos dit deur my beskryf is – ’n hoenderhok, maar die uitvoerings was darem van uitstaande gehalte.

Hierdie hoogtepunte in Oudtshoorn se kultuurlewe bestaan egter nie meer nie.

Destyds was die ANC in die meer-derheid in die raad en hulle wou nie – om die een of ander onverklaarbare rede – die Burgersentrum laat opgradeer nie, hoewel daarvoor begroot was in die munisipale begroting. Finansiële hulp is ook deur my en ander sakemanne soos André van Greunen aangebied vir die opgradering van die foyer, en die lugversorging en klank­-­stelsel in die ouditorium.

Vandag is die DA al bietjie langer as ’n jaar in beheer en lyk die Burgersentrum steeds soos ’n hoenderhok.

Die vraag op baie mense se lippe is of die DA iets omtrent hierdie jammerlike toestand gaan doen.

Oudtshoorn is steeds die enigste dorp in die Suid-Kaap met ’n ouditorium en dit behoort alles tot voordeel van die dorp gebruik te word.

Die ergste van alles is dat die KKNK uit hul kantore getrek het en die Neelsie-teater by Arbeidsgenot in kantore omskep het. Toe my vrou dit hoor, het sy trane in haar oë gekry en gevra: Wat gaan nou met die kultuur op Oudts­­hoorn gebeur?

So my hart is baie seer.

Danie Bester, baie dankie vir jou hulp oor die jare.
– Nic Barrow, Le Lude, Fransch­hoek

Dankbaar dat drieling kan studeer

Ek en my vrou Gerda is die trotse en dankbare ouers van ’n drieling, Gerrit, Jana en Anli van Zyl.

Die geboorte van ons drieling op 8 Oktober 1998 was ’n blye dag vir ons, die familie en vriende. Alle eer aan en groot dankbaarheid teenoor ons He­melse Vader vir hierdie groot geskenk wat Hy aan ons toevertrou het.

Soos dit maar menslik is, was ons egter bekommerd oor hoe ons finansieel na ’n drieling sou kon omsien.

Ná hul geboorte het ’n goeie vriend, wat ’n Sanlam-makelaar/adviseur is, ons onmiddellik en deurentyd byge-staan, ondersteun en van raad voorsien met die finansiële beplanning vir ons kinders se toekoms.

As ouers is ons baie bly en dankbaar dat ons spoedig en in soms moeilike omstandighede kon begin met die finansiële beplanning vir en bestuur van ons kinders se moontlike studie deur middel van onder meer studiepolisse.

Trots op die drieling se 2017-matriek­eindeksamen-resultate is ons nou in 2018 in die bevoorregte posisie om ons kinders met taamlike gemoedsrus vir tersiêre opleiding te stuur.

My raad aan ouers is om reeds vroeg, indien moontlik, met die finansiële beplanning vir u kinders se toekoms te begin, vas te byt en die daaropvolgende vrugte van verantwoordelike finansiële beplanning en bestuur te pluk.

Ter afsluiting weet ons God voorsien en is ons nederig dankbaar dat ons geleenthede kon skep vir ons kinders, óók met ’n bewustheid by hulself van die noodsaaklikheid om te spaar, opofferinge te maak ens ten einde sekere doelwitte te bereik.
– Gerrit van Zyl, Beaufort-Wes

Ek reik uit na julle

Liefste Katrina en kinders, laat my toe om julle te groet in die mooi naam van Jesus Christus. Ek is God innig dank­baar vir die geleentheid om hierdie skry­we aan julle te rig. Ek plaas die brief in Die Hoorn omdat ek sukkel om met my kinders in aanraking te kom en wil graag kontak maak met hulle.

Ons lewe saam het sekerlik mooi en goeie tye gehad en net so ook minder goeie en ja, slegte tye. Tans is ons as gesin sekerlik nie ’n ideale gesin nie en ek erken dat ek groot aandeel het aan die verval. Hierdie skrywe is my ne-derige manier om vir my aandeel aan julle belydenis te doen.

Wat my tans hinder en ongelukkig maak, is ons huidige verhouding wat glad nie goed is nie. Ek word ouer en menige dae wens ek om net met my gesin in vrede te mag wees. Ek wil ook ’n goeie verhouding met my klein­kinders hê en ook soos ander oupas met hul kleinkinders mooi oomblikke be-leef. Dat dit nie so is nie, is vir my ’n hartseer wat ek saam met my dra. Ek bid dat julle dit in jul harte sal kry om my te vergewe vir alles wat ek oor die afgelope jare gedoen het.

Graag wens ek dat ons as gesin ’n geleentheid sal skep om te werk aan die herstel van ons verhoudings ongeag die odds. My bede is dat ons vrede sal na­streef en uiteindelik in vrede sal heengaan. Ek lewe, soos julle almal weet, in moeilike omstandighede, maar het ook aan myself gesê dat ek dit sal verduur ter wille van my gesin.

Ek het waardering vir die tye en kere dat julle as kinders soms na my uitreik. Dit beteken vir my geweldig baie.
My pleidooi as ek afsluit is, kom ons leef in vrede. Weereens duisend maal jammer vir al die oomblikke van ongelukkigheid wat julle moes beleef. Ek vra nederig verskoning.

Mag God julle ryklik seën. Mag jul die beste bereik in die lewe. Weet dat ek julle vir altyd sal koester.
– Jan Moses, Oudtshoorn

Log in with your credentials

Forgot your details?