Briewe / Letters

Nie wenners of verloorders nie

Die brief van Pieta van Heerden in die uitgawe van Die Hoorn van 19 Oktober 2017 het betrekking.

In Handelinge 4:17 is Petrus en Johannes met dreigemente verbied om die Evangelie te verkondig. Bykans 2 000 jaar later word die skoolhoofde in Oudts­hoorn steeds gedreig om stil te bly.

Pieta beskou die skoolhoofde as sag­te teikens. Hy weet hulle staan in diens van die Departement van Onderwys, wat tydens die hele saak te papbroekig was om standpunt in te neem. Dit is beheerliggame wat die beleid bepaal en Pieta moet sy dreigemente tot hulle rig.

Pieta is baie vaag oor watter dele van die hofuitspraak nou oortree word en wie hy beweer die skuldiges is. Hy moet daarop let dat die hofuitspraak nie godsdiens in skole verbied nie, maar bloot riglyne neergelê het oor hoe godsdiens in skole beoefen mag word. Daar was dus nie wenners en verloorders nie.

Ogod het byvoorbeeld ’n probleem gehad met die feit dat daar in een van ons plaaslike skole se skoollied na God verwys word. Na die hofuitspraak kan ons kinders dit nou gelukkig uit volle bors sing. Dit kan seker vir almal wat in geen god glo nie ’n groot frustrasie wees.

As rook in die Gholfklub verbied word, is rook by die Gholfklub verbode. Die hof het beslis nie godsdiens by skole verbied nie en Pieta se analogie is daarom regtig nie toepaslik nie.

As ek Sondag vir Pieta by die kerk sou raakloop waar hy ’n dampie in die voorportaal maak, sal ek hom beslis in liefde innooi om langs my te kom sit. Miskien sê die dominee dat Jesus leef. As Pieta dan sou luister en nie die do­-minee dreig om stil te bly nie, sal ek saggies bid: “Dankie, Here.”
– JK, Oudtshoorn

Misbruik van speelparkies

Laat my toe om ook ’n stuiwer in die armbeurs te gooi met betrekking tot die parkie in Tautestraat.
Vir 37 jaar wat ek ’n inwoner of bewoner van Tautestraat is, het ek en my bure alles in ons vermoë gedoen om ­hierdie parkie skoon en netjies asook veilig te hou.

Mnr Colyn, ook ’n pensioenaris, en sy eggenote woon reg langs die perseel en spandeer baie tyd om dit skoon te hou asook die grasperke nat te spuit.

Ons probleem met leegleêrs en dwelmsmokkelaars het redelik ernstig geword, wat dit gevaarlik vir ons kin­ders en kleinkinders maak om die par­kie te gebruik vir die doel waarvoor dit geskep is.

Die apparate is vir kinders bedoel, maar taamlike hardekwas mense gebruik die swaaie – sommige van hulle weeg meer as 100 kg en as mens hulle teregwys neem sommige dreigende houdings aan.

Meeste van hierdie mense kom uit ander woongebiede met hul Polo’s en City Golfs, opmerklik oor naweek­aande. Hulle gebruik na bewering dwelms in die parkie en versprei dit ook aan kinders in ons buurt.

Seks word openlik beoefen sonder skaamte, die tekens lê oral rond nadat hul vertrek het.

Bottelnekke en klein wit gevoude papiertjies asook leë drankbottels en na­tuur­lik leë Kentucky-koshouers – vyf tot 10 meter vanaf die vullisdrom.

Mnr Colyn se tuinwerker het nou die munisipale skoonmaker geword.

Hierdie situasie het regtig ontwikkel in ’n ernstige probleem vir ons as inwoners.
Ek vertrou dat die amptenary en die SAPD hierdie skrywe ter harte sal neem om ons veiligheid te verseker.

– Nico Ungerer, Oudtshoorn

’n Slagspreuk van Voorspoed vir almal

Gedurende apartheid het meeste van die bena­deel­de Suid-Afrikaners in armoede geleef.

Die oneweredige en onregverdige verdeling van staatsbronne binne die gefragmenteerde samele­wing was vir die toedrag van sake verantwoordelik.

Hierdie staat van volgehoue armoede, is deur weldeurdagte politieke vernuf deur die blanke minderheid in stand gehou. Meeste van die kin­ders vanuit die benadeelde omgewing is ondervoed; hulle was fisiek en verstandelik onder­ontwikkel en hul weerstand teen siektes was laag.

Die uitwerking wat die apartheidsbeleid op die be­nadeelde gemeenskap gehad het, kan nie onderskat of weggewens word nie. Hierdie is ’n historiese feit, wat deur alle redelike, billike en regver- dige kinders van die Here gesamentlik bepeins behoort te word wanneer ons oor moontlike uitkoms­tes vir die uitdagings delibereer.

Daar is egter ’n skool van denke wat glo dat sosiale verandering uitsluitlik die verantwoordelikheid van die individu is. In ’n sin is dit waar, omdat van die benadeeldes hul sosiale omstan­dig­hede kon verander deur te werk met wat hulle het, waar hulle is. Dit was meer die uitsondering as die reël, want daar was nie ’n onderwys- en opleidingstelsel met gelyke geleenthede vir almal nie.

Armoede is omvattend. Dit is meer as net ’n verwysing na ’n staat van eko­nomiese en materiële ontsegging. Hiermee gepaardgaande is daar ook nog maatskaplike, politieke en juridiese armoede, wat bydraende faktore is tot die algehele staat van armoede. Die hervorming, die rekonstruksie en die rehabilitasie van onderwys en opleiding in die nuwe Suid-Afrika, kon ook nie tot dusver daarin slaag om die posisie van armoede sistematies en me­todies aan te spreek nie – ten spyte daarvan dat die kurrikulum, die onderwys en opleiding en selfs die politiek rondom die sektor ingrypend verander het.

Die owerheid in die onderwys en opleiding sektor het óf nie die politieke wil, óf die nie vaar­dighede om die kompleksiteit in onderwys en opleiding sinvol te transformeer nie.

Ek plaas hier opsetlik die klem op opvoedkundige, eerder as politieke, transformasie. Dié sektor kan nie meer uitsluitlik en met vrymoe­digheid in die hande van die politici gelos word nie. Gemeenskappe moet vennootskappe aangaan en netwerke vorm op al drie regeringsvlakke en met die privaatsektor, sodat individue se ­natuurlike kapasiteit ooreenkomstig die behoefte wat daar in die ekonomie en die arbeidsmark bestaan, kan ont­wikkel. Die frustrasie van wan­aangepaste en on­opgeleide individue wat nie effektief aan die eko­- nomie en arbeidsmark kan deelneem nie, manifesteer in ’n verskeidenheid sosiale euwels in ons gemeenskappe.

In die ekonomiese klasse-opset in ons samele­wing, waar so baie so min het en so min so baie het, is niemand meer veilig nie.

Voorspoed vir almal, behoort die slagspreuk van die nuwe Suid-Afrika te wees. Dit behoort ’n ­inisiatief te wees waaraan almal van ons ongedwonge en met blymoedigheid kan deelneem.

– DA Piedt, Oudtshoorn

Sakkrappers laat vullis oral agter

Bo: Hoopstraat na­dat die week se vullis opgelaai is. In die pad lê as van ’n braai­vleisvuur na ’n sak gebreek het. Links: Vullis op die sypaadjie voor die huis van die skrywer.

Bo: Hoopstraat na­dat die week se vullis opgelaai is. In die pad lê as van ’n braai­vleisvuur na ’n sak gebreek het.
Onder: Vullis op die sypaadjie voor die huis van die skrywer.

5 Izak Sak krappersse gemors 006

Die aangehegte foto’s wys hoe ons sypaadjie die afgelope drie maande elke Dinsdagoggend lyk. Dit is by Theresahof 14 onder die groot akkerboom in Hoopstraat, Oudtshoorn.

Daar is sowat ses sakkrappers wat vier tuisgemaakte waentjies met drie of vier baalsakke op elk­een sleep. Ons hele buurt se vullissakke word aangery (die hoop het aangegroei van ongeveer 15 tot 60 sakke). Die sakke word hier uitgeskud en deursoek vir kos en voorwerpe om te herwin. As die wind waai, waai papiere en vullis in die straat op en af. Die hele sypaadjie vanaf die oprit tot by die akkerboom lê besaai met al die vullis.

My vrou het vetplanjies in die akkertjie langs die pallisademuur geplant. Nou pak die mense plastieksakke en gemors in die akkertjie. Van hulle sit ook bo-op die vetplante! Praat en dreig help nie!

Die vorige Dinsdag was hulle nog besig toe die munisipale vragmotor hier stop om die vullis te laai. Dit het amper op ’n bakleiery uitgeloop!

Daar is ook individue wat die akkerboom vir ’n toilet gebruik!

Woensdae moet ek die vullis wat agerbly, skoonvee en optel op die sypaadjie!

Die munisipaliteit maak nie die sypaadjie skoon nie. Ek het dit nog altyd een keer per maand gedoen, maar wat nou hier aangaan, is net eenvoudig ’n skande! Ek weier om verder self skoon te maak!

By wie moet ons kla? Die polisie?

– Izak Cronje, Oudtshoorn
(Die Hoorn het mnr Cronje se brief aangestuur na die Oudtshoorn Munisipaliteit vir verwysing na die betrokke departement vir optrede. Is daar inwoners met goeie raad – of selfs suksesverhale -oor hoe mense steeds die geleentheid gebied kan word om sakke te deursoek vir kos en herwinbare produkte sonder dat woonbuurte vuil agtergelaat word? – Redakteur)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?