Briewe / letters

Dít is mos ­dienslewering!

Ek wil net mnr WIllem Horowitz en sy span (kragafdeling) prys vir die diens wat hulle gelewer het.

Daar was ’n ongeluk in Dassieweg die Sondag van 27 Augustus 2017. Ek persoonlik het minstens ’n halfuur later op die toneel afgekom, Die krag was af weens die ongeluk wat ’n paal in die middel uit die aarde geruk het. Inwoners was natuurlik bekommerd, want dit is Sondag – kos moet klaar kom, voorbereiding om kerk toe te gaan, ens.

In 20 minute kon ek onmiddellik waarneem dat die persoon in beheer weet wat hy doen. Binne drie en ’n half ure is al die krag herstel.

Dit is ’n voorbeeld van ’n aanstelling – die regte akademiese kwalifikasies en kundigheid en nie “baantjies vir boeties of familie” nie. Slegs met sulke aan­stel­lings kan dienslewering effektief raak.
Dankie vir die politieke stabiliteit; so kan administrasie diens lewer.
– Randall Rossouw, Oudtshoorn

Pad ’n gevaar vir motorbande

Ek het opgemerk dat die Oudtshoorn Munisipaliteit “geen parkering”-borde in Ruddstraat langs Tuishuis geplant het. Baie dankie daarvoor.

Die persone verantwoordelik het se­kerlik opgemerk in watter treurige toestand die straat is. Dit is gedurende naweke ons enige toegang te voet (met kieries en loopringe) na Baron van Reedestraat.
Dit is ook die enigste toegang na ’n gastehuis. Dit is ook die ryvlak vir ­Tuis­huis se inwoners se motors.
Die stukke teer is uitgery en dit hou ’n gevaar in vir bande.

Ons werkers wend verniet pogings aan om gate op te vul. Die beheerraad en talle inwoners het al verniet gekla. Ons het al met agbare raadslid Fourie daaroor gepraat maar daarna het ook niks gebeur nie.

Die ACVV wat in beheer is van ­Tuishuis, het Saterdag hulle 100ste verjaardag gevier. Dink bietjie wat die organisasie al vir die gemeenskap be­teken het.

Ons vra net dat daar asseblief ’n plan gemaak moet word voordat daar eise teen die munisipaliteit kom.
– Niene Snyman, Oudtshoorn
(Die brief is aan Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur vir reaksie. – Red)

4 Andre Barnard brief FB

Swak bestuur 

Ek wil graag beaam wat Bart Vosloo verlede week in sy brief aan Die Hoorn geskryf het.
Sien foto bo. Geruime tyd gelede is die sypaadjie in St Johnstraat gevee. Die werksspan verdwyn en los die hope net so op die sypaadjie.

Dis ’n teken van swak bestuur en beheer. Dit in ’n munisipateit waar die munisipale bestuurder en senior bestuur hulself topvlak salarisse toeëien met belastingbetalers se onbillike hoë belastingtariewe.
– André Barnard, Oudtshoorn

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?