Briewe

Ondergrondse water nie oplossing 

Ondergrondse water vanaf Blossoms is nie ’n oplossing vir ons waterprobleme op Oudtshoorn nie.

Nadat die ondergrondse water by Dysselsdorp ontgin is, het die fonteine by Oudemuragie almal opgedroog.

Die geld wat glo bewillig word vir die doel – sowat R60 miljoen – behoort aangewend te word vir damme.

Die munisipaliteit moet probeer onderhandel om damme te bou.
Pompwater bly duur en onderhoud kos baie geld.

Toe die Raubenheimerdam ingehuldig is, het Koos Rauibenheimer gesê hulle moet die volgende dag begin beplan vir ’n nuwe dam.

Damme verg min of geen onderhoud.
– Dr Adam Barnard, Oudtshoorn
Die direkteur tegniese dienste by die munisipaliteit, Chris Koch, sê die nasionale re­gering wou nie toestemming gee dat die geld wat bewillig is vir Blossoms beskikbaar gestel word vir enige ander projek (soos ’n dam) nie. Die munisipaliteit hoop om steun en toestemming van die departement van waterwese te verkry vir die bou van ’n tweede dam in die Swartberge. Dit is egter bekend dat die bou van damme nie boaan die departement van waterwese se prioriteitslys is nie, en hulle eerder munisipaliteite aanmoedig om metodes te vind om water te spaar / afvalwater te suiwer / grondwater te ontgin.

Wonderful gentleman

On Friday 23 March we decided to pay our electricity account at Pick n Pay in Oudtshoorn. As the cashier informs us that we were R60 short, a gentleman came from behind and handed the sixty rand to the cashier and walked away.

I went up to him, thanked him and shook his hand. I was so shocked and grateful to think that there were such good people in Oudtshoorn.

Thanking you again. A grateful pensioner.
– Lionel Dashwood, Oudtshoorn

So sal ons trots kan wees op ons dorpe

Dit is verblydend om te hoor van die vordering wat gemaak word met die afbetaling van die munisipale skuldlas. Ook met die herstel van die strate is redelik gevorder en ons sê baie dankie daarvoor.

Ek wil my nie slim hou nie, maar wat die strate betref, moet die raad glad nie dink na die lapwerk is alles klaar en afgehandel nie. Ons almal besef daar is ’n groot agterstand met instandhouding en hulle sal veral moet kyk na Hoog- en Adderley­straat wat swaar verkeer dra, vir ’n totale nuwe toplaag.

Die ander probleem wat die raad meer drasties sal moet aanspreek, is die van vullisverwyderingsdienste in Oudtshoorn, Bridgton en Dysselsdorp.

Ek daag die raad uit om persoonlik te gaan kyk hoe lyk dit in Dysselsdorp – sommer vanaf die eerste straat as jy inkom, verby die pawiljoen tot by die stortingsterrein langs die pad Uniondale toe.

Dis voorwaar ’n seeroog vir elkeen om te aanskou! Dis om van skaam te kry. Die inwoners van Dysselsdorp verdien dit regtig nie – ook nie diegene wat die pad gebruik nie. Ek praat nie eens oor wat toeriste van ons wêreld sê of dink nie!

Ek wil net dit nog sê: die tyd stap aan, die verkiesing is om die draai. Die DA in Oudtshoorn sal hulle sokkies moet optrek, anders weet ons stemwerwers nie wat om vir die kiesers te sê nie – ons moet in skaamte ons hoed bo-oor die oë trek!

Ek glo nie ons vra die onmoontlike wat nie haalbaar is nie. Ons vra net: Help ons dat ons dorpe en ons strate skoon en aan die kant kan wees sodat ons almal trots kan wees en kan spog met ons Klein Karoo en al sy mense!
– Oompie, Oudtshoorn

Kan aanwins wees

Die DA se Federale Kongres vind op 7 en 8 April in Centurion, Pretoria plaas. Na verwagting sal meer as 2 000 afgevaardigdes byeen wees om die werksaamhede van die kongres te bespreek en af te handel. Die uitstaande onderwerp wat tydens die kongres bespreek sal word, is die verkiesing van die party se federale uitvoerende bestuur.

Een van die kandidate wat homself as een van die mede-voorsitters beskikbaar gestel het, is dr Ivan Meyer, tans die Wes-Kaapse minister van finansies. Minister Meyer is ’n sterk kandidaat vir een van dié posisies omdat hy oor uitstaande leierskap-eienskappe beskik. Hy word baie hoog in die Wes-Kaapse provinsiale kabinet aangeslaan en assulks sal hy ’n waardevolle en waardige verteenwoordiger van die Wes-Kaap in Fedex wees.

Hy is ’n leier met ’n sterk persoonlikheid en is gewild vanweë sy versiendheid wat politiek in Suid-Afrika betref. Wat sy politieke posisie in die DA betref, lei dit geen twyfel nie dat hy ’n goeie kandidaat sal wees vir die posisie van premier in die Wes-Kaap, sou die geleentheid hom voordoen.

Daar is reeds op nasionale vlak ’n aanduiding dat hy ’n goeie kans staan om tot ’n posisie in die uitvoerende bestuur verkies te word. Polities ge­sproke kan minister Meyer se verkiesing tot die DA se federale uitvoerende bestuur net ’n aanwins vir die Wes-Kaap as DA-beheerde provinsie wees.
– Pat Wagenaar, Oudtshoorn

Veg vir Afrikaans!

Aan almal wat Afrikaans praat
gaan ons stilbly en net na ons asem snak
Forseer jouself om iets te doen
dit kan ons breek of versoen
Reg om in my taal te praat en te sing
kom maak plek in geskiedenis vir ’n nuwe
begin
Iets is weer aan die broei
ons taal word alweer besnoei
Kom ons maak nou die keuse
ons taal kry ’n nuwe leuse
Aan alle aksente
dit is ons taal se grootste geskenke
Aan alle Afrikaanssprekendes ons behou die reg
om daarvoor te debatteer en te veg
Niemand kan my dwing en sê
om in Afrikaans te bid en te belê
So verseker ons die taal vir ons nasate
vir die voortbestaan, Afrikaans is ’n groot bate
– Randall Rossouw, Oudtshoorn

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?